Gee ons meer van U Gees, Here!

 

Hierdie is nie net nog ʼn slukkie nuwe wyn nie! Wees dus versigtig as jy besluit om hieraan te proe, want dit kan dalk alles verander in jou lewe! Ja, dit kan, soos in my en my gesin se lewe, al die bekende mure omstoot en jou dwing om weer van punt nul af te begin!

Hoor die Woord van die Here!

Lukas 11:1 tot 14

Op 'n keer het Jesus op 'n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het. ”

Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê, ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ “

Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het 'n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’

Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou.

Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.

“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom 'n vis vra, hom 'n slang in plaas van 'n vis gee? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

My vriend, Gerhard Barnard, skryf hieroor: Dis so bekend en tog net só verrassend. Vir my het dit gevoel of dit heeltemal nuut is!

As Sy dissipels Hom vra hoe om hulle moet bid, maak Hy dit eenvoudig en kort en kragtig.

Soos gewoonlik vertel Hy dan ʼn storie om hulle verder te leer: Iemand kom middernag by ʼn vriend. Hy nooi hom in maar het nie kos nie. Hy gaan dan na sy ander vriend in die dorp wat al slaap en vra vir drie brode (hy vra nie ter wille van homself nie, maar vir sy vriend by die huis).

Die ou wil egter nie oopmaak nie. Sê sy mense slaap al.

Dan kom Jesus met onverwagse raad: As hy net aanhou klop, sal die ou tog maar oopmaak. Nie noodwendig vanweë hulle vriendskap nie, maar sê ʼn Engelse Bybelvertaling: "because of your shameless persistence”.

Dis Jesus se raad aan hulle oor gebed: Maak net ʼn laspos van jouself by Vader.

En dan gaan Jesus verder en kap hierdie “spyker” net nog ʼn bietjie dieper in.

Hy por dit verder aan deur te sê: “Vra en hou aan vra. Soek en hou aan soek. Klop en hou aan klop.”

Om die spyker nou rêrig nog dieper in te slaan, gebruik hy twee voorbeelde van ʼn slegte pa:

Sy kinders kom vra vis en, anders as wat jy sou verwag, gee wat sy kind vra. Hy gee nie vir daardie kind ʼn gevaarlike slang wat hulle kan seermaak nie.

Dan vra hulle hom vir ʼn eier en hy gee ʼn eier. Hy gee hulle nie ʼn gevaarlike skerpioen wat hulle kan seermaak nie.

Dan sluit Jesus af met ʼn verrassende einde. Hy sê: “As julle sondige mense dan weet hoe om goeie geskenke te gee, sal Vader dan nie soveel te meer die Heilige Gees gee vir die wat Hom vra nie.”

Hoekom sê Jesus dit? Waar kom dit nou vandaan? Hy het mos nie oor die Heilige Gees gepraat nie. Hy het dan oor gebed gepraat!

Dink bietjie hieroor… Wat laat Jesus se gedagtes spring tot op ʼn plek waar Hy so eindig?

Weet jy wat hoor ek?

Ek hoor hoe die Here Jesus, ons Koning, ons uitdaag, daar waar ons woon en werk, daar in jou dorp, stad, of op die platteland, of op die plaas.

Wil jy nie weer ʼn keer nie vir die Vader en vir Jesus, die Doper met die Gees, vra: Gee ons meer van U Gees, Here!

Ja, Vader, Jesus, stuur soos destyds in Esegiël se tyd, daar in Esegiël 37, weer U Gees! Gee U Gees weer ʼn keer in my eie lewe, in my familie en geliefdes se lewens, in ons gemeenskap, daar by die werk, hier op ons plaas, in ons skool, ons universiteit…

Here, gee asseblief tog weer U Gees en bring ook hier nuwe lewe!