Die Koninkryk van God is soos om te ontdek wat God nog altyd vir jou bedoel het

Vandag wil ek jou neem na ʼn gelykenis wat net twee verse lank is. Ons lees dit in Mat. 13:45 en 46.

“Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop.”

Besef jy dit is wat gebeur het die dag toe jy werklik die Evangelie oor Jesus Christus en die Koninkryk van God gehoor en aanvaar het in geloof?

Het dit in jou lewe ook reeds gebeur!

Kan ek jou net weer herinner aan die kern evangelieboodskap. Oor Jesus. Oor God wat ons so liefgehad het dat Hy Sy enigste Seun, self God, gestuur het om ’n doodgewone mens te word om hier tussen ons te lewe vir sowat 33 jaar, gekruisig te word, te sterf, begrawe te word en weer op te staan uit die dood.

Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Vriende, soveel mense praat oor Jesus asof Hy hierdie mistiese wese was, amper soos ’n soort super-wese, of super-mens!

Maar besef jy dat daar meer historiese, buite-bybelse bewyse en verwysings is na Jesus en dat Hy werklik gelewe het, as wat daar oor ’n Julius Caeser is en dat hy werklik gelewe het op aarde?

Ja, daar is genoeg bewyse oor Jesus van Nasaret, Sy lewe, Sy woorde, Sy dade, Sy dood en opstanding, dat regsgeleerdes en wetenskaplikes wat voorheen verklaarde atëiste was, na ’n deeglike wetenskaplike ondersoek, nie anders kon nie as om te verklaar dat Hy was en is wat die Bybel op sovele plekke gesê het Hy is.

Ja, volgens ons beste navorsing en berekeninge, is Hy in Betlehem gebore op 11 September 3 vC.

Op 9 April 30 nC, daardie Woensdag voor die Pasga wat daardie Woensdagaand, 18h00, begin het, is Hy gekruisig, sterf Hy en word begrawe.

Om daardie eerste dag van die nuwe week, die Sondag, 12 April 30 nC, op te staan uit die dood, en dan vir 40 dae Homself as lewend vertoon en bewys aan honderde mense.

Om op te vaar na die hemel van waar nou Hy regeer as die nuwe Koning van hierdie aarde.

As ek en jy dit werklik glo, gaan dit ons hele lewe verander. Dit gaan alles wat ons elke dag van ons lewe doen, ’n ander klem en bedoeling gee.

Dit is my en jou taak as gelowiges, wat dit alles glo, om hierdie evangelie van die Koninkryk, oor Jesus se Heerskappy en Koningskap, te verkondig aan alle mense, en dissipels te maak uit al die nasies.

Dit gaan maak dat alles wat ons doen, en sê, en hoe ons lewe en besigheid doen, maar net ander maniere en instrumente word wat aan die mense om ons, ook “hierdie kosbare pêrel” te wys!

Kan ek vir jou vra: Is Jesus werklik Koning en Here in jou lewe?

Wie is werklik God in jou lewe? Wie het die finale sê oor alles in jou lewe?

Kan die mense om jou daarvan getuig dat jy alles wat jy gehad het, gaan verkoop het om dit te hê en waar te laat wees in jou lewe?