Dit is Koninkryk waar mense mekaar liefhet soos Jesus ons liefhet

Verse wat my elke keer aangryp as ek dit lees, is waar Jesus Homself en die manier hoe Hy ons liefhet as Sy kinders, as ʼn soort gelykenis gebruik.

Jy ken die verse baie goed, maar kom ek haal Johannes 13:34,35 net weer vir jou hier aan:

“Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”

Onthou jy wat Jesus net voor dit gedoen het om vir Sy volgelinge te wys wat dit beteken om mekaar lief te hê? 

Hy het by elkeen van hulle se vuil, sweterige voete gaan sit en dit vir hulle gewas, afgedroog en gesalf met lekker-ruik essensiële olie.

Aangesien dit hierdie maand Huweliksmaand is, en ek glo dat elke gesin en familie in die wêreld gesond kan word waar manne en vroue mekaar in die huwelik en in verhoudinge so gaan liefhê soos Koning Jesus ons leer, gaan ek baie prakties hieroor gesels in hierdie konteks.

Jy weet dat om aan mekaar onderdanig te wees, soos Ef. 5:21 sê, beteken om mekaar se behoeftes en belange bo joune te stel, nè? 

Sien om werklik ʼn ander mens lief te hê, beteken om te kies dat jou belange en behoeftes en wat jy wil hê, “onder” en van minder belang sal wees as hulle sʼn, juis omdat jy hulle wil laat voel dat jy hulle liefhet!

Dit is presies wat dit dan ook beteken as daar vir die vrou in Ef. 5 gesê word dat sy, daarom, aan haar man “onderdanig” moet wees, want die een ding wat ʼn man nodig het in ʼn liefdesverhouding is respek!

Daarom word vir die man net daarna gesê dat die manier hoe hy aan die vrou “onderdanig” moet wees, is om haar lief te hê!

In die lig hiervan, hier is my praktiese Resep vir huwelike en liefdesverhoudings!

Hier is 'n paar wenke om jou huwelik en liefdesverhouding lekker te maak:

Die Here sê mos in Ef 5:21 ev, die ding wat die man nodig het in die huwelik is respek, en wat die vrou nodig het, is dat haar man haar liefhet.

As ons dit in ʼn som moet oor sit, beteken dit dat liefde werk net as albei van ons dit 100/100 voluit doen!

Maar soms is dit nodig, waar dinge nie normaal en reg werk nie, moet jy kies om, sê jou Koning, om alleen 100% van jou kant af te gee, al kry jy vir ʼn tyd nul persent van die ander kant af!

Want sienh, as jy dit doen en aanhou om dit te doen, is dit gewaarborg om die gewenste resultate te hê!

God het die mens so gebou dat geen mens nie reageer as hulle met 100%-liefde of 100%-respek gebombardeer word elke dag nie!

So, hier is my Liefdes-resep vir elke dag:

  1. Maak tyd vir 'n 10 sek drukkie
  2. En soen mekaar vir 10 sek lank (haal eers lekker asem voor die tyd)
  3. Maak tyd om sommer net vir 10 min elke dag te sit en gesels en te hoor hoe gaan dit met jou maat
  4. En maak tyd vir "date your mate", weg van die kinders; eenkeer per week ten minste, en as dit nie kan nie, ten minste eenmaal elke twee weke!

En weet jy wat is die resep om "date your mate" lekker en interessant te maak?

Wat van 'n  A tot Z-"date" elke keer?

Doen elke keer iets wat met die volgende letter van die Alfabet begin:

A - ?

B - Bad 'n slag saam!?

C - "Cape Town" toe of êrens elders wat met ʼn C begin!

D - ?

Q – Doen iets "quircky"!

Wees so lief vir mekaar soos Jesus ons liefgehad het; ook in die huwelik en in liefdesverhoudinge!  En geniet dit, want daar is niks lekkerder as dit nie!