Om die Koninkryk van God aan mense te verkondig, beteken om…

So ek gesê het, wil ek graag saam met jou ʼn bietjie fokus op die gelykenisse wat Jesus aan ons as Sy volgelinge vertel het. Voordat ons daarmee gaan besig raak, kom ons neem net so ʼn bietjie bestek op van alles waarmee ons die afgelope vyf en ʼn halwe jaar (kan jy glo!), week na week, mee besig was in hierdie reeks, HEMEL OP AARDE, waar ons vir mekaar probeer sê het hoe lyk dit as iets van Koninkryk van die hemel hier op aarde, midde al die stukkenheid, begin deurbreek.

Ons het in hierdie vyf en ʼn halwe jaar vir mekaar op verskillende maniere verskillende kante gewys van wat Jesus in Sy Woord “die boodskap of goeie nuus oor die Koninkryk van God” genoem het.

In Handelinge 20 praat Paulus ook hieroor. (En ek gaan dit aanhaal uit die Afrikaanse 2020-vertaling).

Om oor die Koninkryk van God met mekaar te praat, moet ons die volgende dinge beklemtoon  en moet die volgende gebeur in hierdie proses:

  • Julle moet sien en hoor… “hoe ek die Here gedien het, in alle nederigheid en met trane, en deur die beproewinge wat oor my gekom het…” (vers 19)
  • “Julle weet ook hoe ek nie nagelaat het om enigiets van dit wat vir julle voordelig is, aan julle te verkondig, en aan julle in die openbaar en in julle huise te onderrig nie” (vers 20)
  • “Terwyl ek… kragtig getuig het van bekering tot God en geloof in ons Here Jesus.” (vers 21)
  • “Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi, naamlik “om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (vers 24) (Ek hoop dat elkeen van julle wat hierdie NOG ʼn SLUKKIE NUWE WYN-nuusbriefies week na week lees, die hele tyd bewus is waarom dit elke week nie maar net nog ʼn nuusbriefie is nie! Dit is vir my elke week asof dit die laaste ding is wat ek aan jou wil bedien as vandag my laaste dag op aarde sou wees!)
  • Want ek glo dat ek besig is om iets oor “die koninkryk” aan jou te verkondig (vers 25)
  • “Daarom verklaar ek op hierdie dag van vandag aan julle dat ek onskuldig is aan julle almal se bloed; want ek het nie daarvan teruggedeins om die volle heilsplan van God aan julle te verkondig nie.” (vers 26 en 27)
  • Daarom is my hart elke week as ek klaar met jou die Nuusbriefie gedeel het, dit wat Paulus se afskeidswoord aan die ouderlinge van Efese was: “En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade, Hy wat die mag het om op te bou en aan julle onder almal wat geheilig is, 'n erfenis te gee.” (vers 32)

Mag dit jou help om hierdie weeklikse nuusbriefies met nuwe oë, en selfs met ʼn bietjie meer erns (indien nodig!) te lees!