Soek My Koninkryk… ook terwyl julle luister na die gelykenisse

Kom ons luister met ʼn oop gemoed na dit wat Jesus daar in Mat. 6 vir ons sê in daardie bekende verse:

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Kom ek probeer om in my gebroke Afrikaans die betekenis van die Bybelse begrippe wat ons hier van lees, oor te sê:

  • “die Koninkryk van God” = Die Koninkryk van God gebeur daar waar ons iets beleef en sien gebeur as ons God (wat ons in Jesus Christus leer ken en leer vertrou het) beheer oorneem en begin om dit wat in Sy hart is en wat Sy wil is, ook hier sigbaar te maak en te laat deurbreek.
  • “Sy geregtigheid” = Sy wil, hart en groter plan.

Dit is my hart ook met hierdie “ondersoek” en “soeke” na wat Jesus, die Seun van God, God self, vir ons wys wanneer Hy in verskillende gelykenisse, vir ons iets wil laat “sien” of iets aan ons wil bonatuurlik openbaar oor hoe lyk dit daar waar die Koninkryk van God, die Koninkryk van die hemel ook hier op aarde, tussen al die stukkend en seer begin deurbreek. Wat kan ons verwag om daar te sien en daar te ervaar.

As ons hierna “soek” terwyl ons luister en nadink oor die gelykenisse wat Jesus vertel het, en ons toelaat dat God se Gees aan ons openbaar wat die hart van elkeen van hierdie gelykenisse is, gaan dit vir ons wees soos “nuwe wyn” wat die Here nuut aan ons bedien deur Sy Gees.

Dit gaan ons gedagtes, ons gevoelens, en ja, ons lewe, alles, so verander dat ons nooit weer dieselfde kan dink of voel of doen wat ons voorheen hieroor gedink, gevoel of gedoen het nie.

Dan belowe Jesus, die Koning en Here, gaan al die ander dinge wat in God se hart vir elkeen van ons is, ook vir ons bygevoeg word.

Ja, ook dinge waaroor die ongelowige wêreld rondom ons hulle so afsloof of dood bekommer!