As iemand wat daar was, vir jou kom vertel hoe dit in die hemel was...

Kan jy nog die rolprent, “Heaven is for real”, onthou?

Dit is mos gebaseer op ʼn boek met dieselfde titel van Todd Burpo, wat ʼn ware verhaal is van sy 4 jaar-oud seuntjie, Colton Burpo, wat tydens ʼn nood-blindedermoperasie, hemel toe gaan, terugkom en dan begin vertel wat hy daar in die hemel ervaar en gesien het.

In die lig van hierdie ware verhaal, wil ek vir jou die volgende baie persoonlike vraag vra: Glo jy werklik dat Jesus van Nasaret, wat gebore is op 11 September 3 v C, en wat gesterf en opgestaan het op die 9de en 12de April 30 nC, werklik was wat Hy self gesê het Hy was, naamlik God die Seun, wat ʼn mens geword het?

Besef jy wat die implikasies is as jy dit werklik glo?

Besef jy dat dit beteken dat as hierdie Jesus vir ons begin vertel “die Koninkryk van die Hemel is...”, dan hoor ons Hom praat oor iets wat Hy self weet en ken, naamlik hoe dit is en lyk waar dit Hemel is, waar God regeer en die Koning is!

As hierdie Jesus dan vir ons begin vertel in wat Hy “gelykenisse” genoem het en vir ons sê dat dit is hoe die “Koninkryk van die hemel is”, dan moet ons dit met groot erns bejeën en regtig seker maak ons hoor wat Hy sê en dan moet ons regtig probeer hoor wat presies Hy hier bedoel het om dit so aan ons oor te dra.

 Die meeste van ons ken die inhoud van sommige van hierdie gelykenisse in detail, maar min van ons weet dat Jesus daar in Lukas 8, net nadat Hy die gelykenis van die saaier aan Sy dissipels vertel het, ook die volgende oor gelykenisse gesê het:

“Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?

En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander (CN: bedoelende “die ongelowiges”) deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.

Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God...”

Wat sê Jesus dus hier?

Terwyl Sy dissipels luister na hierdie gelykenisse, gaan God se Gees dit gebruik om, soos Jesus dit noem, “verborgenhede” van die Koninkryk van God en waar dit “Hemel” is, vir hulle oop te breek. Terwyl ander mense, ongelowiges, daarna gaan luister, maar dit gaan oor hulle kop trek en die hart en die essensie van daardie gelykenis gaan net totaal by hulle verbygaan.

Onthou dit wanneer ons gaan gesels oor ʼn klompie van hierdie gelykenisse van Jesus, en oor wat hulle vir ons vertel oor hoe lyk dit wanneer iets van die hemel deurbreek hier op aarde.

Ja, wanneer iets van die koninkryk van die hemel hier tussen ons, midde al hierdie stukkendheid in ons eie lewe, en rondom ons, deurbreek!