Kom ek sluit hierdie reeks oor JESUS IN ONS af deur met jou ʼn bietjie meer in detail te gesels oor iets wat selfs die slimste van slimmes in hierdie wêreld stom sal laat.
Ja, dat hierdie Jesus in ons, soos ons laas vir mekaar gesê het, die protokos is, wat ons vertaal het met “Aller-oorsprong” of “Beginpunt” van alles in die skepping.
Vers 16 sê verder: “Omdat deur Hom alles geskape is in die hemele en op die aarde, die sigbare en onsigbare, of dit trone of heerskappye is, of leiers of magte, alles is deur Hom geskape en vir Hom geskape.”
Alles wat ek en jy dus rondom ons sien, is “in Christus” geskape, en “in Hom” word alles aanmekaar gehou.
Dit sluit alles in. Ja, ook tyd!
- S. Lewis, die Christenskrywer, illustreer dit so in sy boek, MERE CHRISTIANITY.
Hy sê: Sien voor jou hierdie A4-bladsy waarop jy, horisontaal, ʼn lyn trek wat dan TYD voorstel. In ʼn sin is God dan die A4-bladsy en “in Hom” is Tyd.
Die teoloog, Karl Barth, gaan verder en sê God werk en beweeg in Tyd; tog staan Hy buite Tyd.
Eintlik totaal onverstaanbaar vir ons plat koppies!
Dit is soos hierdie rolprent wat besig is om te speel, waarvan God die Oorsprong en die Skrywer van die Goue-draad-draaiboek is, maar Hy is ook direk betrokke in die detail van die oomblik wat nou afspeel en gebeur.
Sjoe, hoe sê ʼn mens dit in gewoon-verstaanbare Afrikaans? Hoe beskryf jy ʼn Onbeskryfbare God en Koning en Sy besigwees met ons in gewone mensetaal?
Die manier hoe hierdie God dit vir die Ekklesia sê is: Ek is!
Ja, Hy is die “Ek Is”, maar ook die “Ek Was,” maar ook “Ek sal” as die God wat in detail betrokke is in die toekoms.
Ja, Hy is die Alfa, en die Omega!
Dit beteken nie dat Hy nou die Alfa is, en eers later die Omega is nie. Nee, Hy is terselfdertyd die Alfa en die Omega!
Wat vir ons die gister en verlede is, en wat vir ons môre en die toekoms is, is alles NOU deel van God wat sê: EK IS, is My Naam! (Eks. 3:14).
So kan ek aanhou en aanhou om die een “onverstaanbare” teksgedeelte na die ander teksgedeelte oor hierdie onbeskryfbare God van ons vir jou hier aan te haal.
Kom ek sluit hierdie reeks met die volgende af:
Mag die Heilige Gees aan ons in Sy genade hierdie onbeskryfbare, onvergelykbare Christus openbaar.
Ja, dat jy en ek sal weet en ervaar hoe hierdie ewige, onbeperkte, perfekte, mensgeworde, gekruisigde, opgestane, opgevaarde Christus, ook die oorwinnende, triomfantelike, verheerlikte en onvergelykbare Christus kan wees, en nou ook in elkeen van ons woon en in die detail van ons hier en nou in ons werk en met ons besig is!
Groot is Sy Naam!