Jesus in jou (Deel 11)

 

Kom ek haal net weer Kol. 1:26 tot 28 hier vir jou aan:

“Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus.”

Ons is besig om ʼn bietjie na te dink oor wat dit prakties beteken in ons lewe.

Ek wil dit beklemtoon dat ek werklik nie probeer om suiwer rasioneel hieroor met jou te praat nie.

Ons tipiese Westerse manier is mos om te dink dat as ons met ons kop iets verstaan en kan verduidelik, dat ons weet wat dit beteken.

Maar in hierdie geval, oor “Christus is in julle”, is dit beslis nie die geval nie, want dit is nie net iets wat ons met ons kop, rasioneel, bloot kan verstaan nie. Nee, dit behels soveel meer.

Kom ek probeer om dit so te verduidelik.

As ons Kol. 1 van vers 1 af lees, kry ons hierdie merkwaardige beskrywing van Jesus Christus. Hy word byvoorbeeld in vers 15 in die Grieks “protokos pases ktiseos” genoem, wat in Afrikaans vertaal word as “Eersgeborene van die hele skepping”.

Dit is egter ʼn baie verwarrende vertaling van wat in die Grieks eintlik staan en bedoel word. Want dit gaan glad nie hier oor Christus “wat eerste gebore is” nie.

Kyk maar net wat in vers 16 oor Hom gesê word: “Omdat deur Hom alles geskape is in die hemele en op die aarde, die sigbare en onsigbare, of dit trone of heerskappye is, of leiers of magte, alles is deur Hom geskape en vir Hom geskape.”

ʼn Beter vertaling van die Griekse woord “protokos” is dus eerder in Afrikaans iets soos “Aller-oorsprong”, “Beginpunt”!

Hy is dus voor alles. Hy moet letterlik die Beginpunt wees as ons oor iets begin dink. Hy moet ons Vertrekpunt in ons denke wees. Of soos hulle in die filosofie sê: Die Archimedes-punt waarvandaan ons dinge bedink, maar oor die Spilpunt waarrondom alles draai en wat sin en betekenis aan alles gee.

Kom ek probeer dit illustreer deur jou te herinner aan een van Jesus se wonderwerke. Onthou jy van die keer toe Hy vir ʼn skare kos gegee het met ʼn paar broodjies en vissies?

In Mat. 14 lees ons hoe Hy met vyf brode en twee vissies vir sowat 10 000 mense altesaam kos gegee het, en daar nog 12 mandjies vol stukke brood oorgebly het.

En in Mat.12 lees ons waar Hy met sewe brode en ʼn paar vissies sowat 8000 mense altesaam kos gegee het, en daar nog sewe mandjies vol stukke oorgebly het.

Hiermee illustreer Jesus aan ons iets. Dat wanneer die somme net nie wil klop nie, as Hy daar instap en daar is, gebeur hierdie merkwaardige! Dan maak Hy somme wat net nie wil en kan klop nie, dat hulle bonatuurlik klop!

Sien, dit is wie Jesus is!

Ek en jy moet dit onthou!

Nou dat ons weet dat hierdie Jesus in ons, in ons lyf woon elke oomblik van elke dag, 24/7, mag ons nie dit vergeet nie!

Veral nie as die somme in ons lewe en in ons besigheid of boerdery net nie wil en kan klop nie!

Ja, ook daar waar die syfer-eksperts onder ons ook maar sonder antwoorde sit, en hulle op geen manier die somme kan maak klop nie, daar is Jesus die “protokos”!

Onthou dan as gelowige volgelinge van Jesus dat hierdie Jesus in en by ons is, ja, Hy wat die “protokos pas ktiseos” is!

In plaas daarvan dat jy jou dood-stres as die somme nie wil klop nie, bedaar, word stil (soos die Bybel op soveel plekke sê), en onthou en ervaar dan net weer dat Jesus in jou is!

Raak net weer bewus van Hom wat ook in jou is, en vra Hom: Here Jesus, kom asseblief en laat ook die somme vir my klop!