Jesus in ons (Deel 10)

Ons dink na oor hierdie merkwaardige waarheid wat God se Gees deur ʼn Paulus daar in die brief aan die gemeente in Kolosse aan ons oopbreek.

In Kol. 1:26 tot 28 staan dit so:

“Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus.”

Onthou wat ons reeds hieroor met mekaar uit ander Skrifgedeeltes gedeel het.

Ja, dat Jesus, Koning van alle konings, God, God die Seun, ook ʼn gewone mens geword het. Vir ʼn bietjie meer as 33 jaar het Hy hier tussen ons op die stofstrate op aarde geloop, gesterf en opgestaan uit die dood om nou ook deur die inwoning van God die Gees, in elkeen van ons, in ons lywe, te woon en te lewe.

Wil jy nie net vir ʼn oomblik, daar waar jy hierdie epos sit en lees, terugsit, jou oë toemaak, en sommer net eers ontspan op daardie stoel waarop jy sit nie?

Voel jou rug teen die ruglening, voel hoe jy sit daar op die sitplek, voel waar jou hande rus, en voel jou voete op die grond.

En haal rustig en diep asem.

Raak bewus van Jesus wat deur Sy Gees in jou, in jou lyf, op hierdie oomblik is.

Onthou vir ʼn oomblik hoe Sy dissipels daar in Johannes 20 skielik bewus geword het van die opgestane, lewende Jesus daar tussen hulle, en hoor hoe Hy vir hulle, maar ook nou op hierdie oomblik vir jou sê, terwyl Hy oor hulle en jou blaas: Vrede vir julle!

Terwyl jy lekker diep en ontspanne asem intrek van jou maag af, op in jou longe, tot by jou skouers, en net vir so ʼn paar tellings dit inhou en dit ervaar in jou, begin dan dit stadig uitblaas, so vir 6 tellings.

Voel sommer hoe jy daarmee saam alle spanning, bekommernis en negatiwiteit wat in jou is, saam uitblaas.

Doen dit nog so tweekeer en wees net baie bewus van hierdie vrede in jou.

Hoor hoe Jesus in jou vir jou in die woorde van Fil. 4 sê:

“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”

Terwyl jy lekker ontspanne daar sit en ontspanne asemhaal, vertel sommer vir Jesus in jou van alles wat vir jou op hierdie oomblik ʼn bekommernis of ʼn uitdaging is, en vra vir Hom wat jy nodig het.

Ervaar dan hoe daar hierdie dankbaarheid in jou opkom omdat jy weet Hy het gehoor.

Beleef dan hierdie vrede van God, vrede wat Jesus deur die werking van Sy Gees in jou aan jou gee.

Ja, dit is ʼn vrede wat eintlik onverstaanbaar wonderlik is en sommer net jou en alles waaraan jy dink en ervaar, oorspoel!

Sit net vir ʼn oomblik en geniet dit.