Besef jy aldag hoeveel God oor jou omgee? Ja, hoe Hy hierdie buitengewone plan in plek gesit het om Sy kinders te beskerm, te lei en daar vir hulle te wees. Met dit in gedagte, kom ons herinner mekaar net weer aan wat Hyself aan ons in die verband openbaar in Sy Woord. Jesus, die opgestane Lewende Here, woon deur Sy Gees in Sy nuwe woning, die Ekklesia – dit is nou elkeen van Sy mense wat in geloof Jesus as Verlosser en Here aangeneem het en volg. Die Woord van God sê ons is nou Sy Liggaam en Hy woon in ons deur God die Heilige Gees. Dit is wat Hy byvoorbeeld daar in Johannes 14 aan ons belowe het: “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle.” (Joh. 14:16-20) Dit het natuurlik geweldig wonderlike implikasies. Soos byvoorbeeld, omdat dit waar is, geld Joh. 14:12-14: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Ek hoop jy hoor presies wat Jesus hiermee aan elkeen van ons wat gelowige volgelinge van Jesus is, sê! Hierdie bonatuurlike een-wees, hierdie een-word met Jesus-in-ons deur die werking en inwoning van die Gees, verander ons. Dit het ook ons posisie en wie ons is in die oë van God die Vader verander. Besef jy wat dit prakties beteken? Dit beteken byvoorbeeld dat as ek en jy iets in gebed vra, dan vra ons dit “in die Naam van Jesus” en is dit vir die Vader asof Jesus (in ons) dit vir Hom vra. Daarom kom Jesus in Johannes 15 en verduidelik dit in terme van ʼn wingerdstok en lote wat ingeënt is in daardie wingerdstok en so onlosmaaklik deel geword het van daardie wingerdstok. Dit is wat ons gebeur het toe ons Jesus as Verlosser en Here in geloof aanvaar het. In Johannes 3 verduidelik Jesus dit as ʼn wedergeboorte wat in elkeen van ons plaasgevind het. Ons is bonatuurlik weer ʼn keer gebore as ʼn nuwe mens, deur die werking van God se Gees. 2 Kor. 5:17 en ander gedeeltes in die Woord beskryf dit as ʼn nuwe skepping wat gebeur het. Hierdie “nuwe skepping” het nie net in elkeen van ons individueel gebeur nie. Nee, dit wat in ons elkeen gebeur het, is deel van iets baie groter, iets baie wonderliker. God is besig met ʼn nuwe skepping, ʼn nuwe skeppingswerk. En dit beteken dat die Ekklesia as nuwe Liggaam van Jesus op aarde, deel is van hierdie nuwe skepping waarmee God besig is! Daarom word Jesus en dit wat in Hom gebeur het deur Sy dood en opstanding, beskryf met wonderlike beelde en prentjies wat dit alles verder aan ons verduidelik. So word Jesus, en dus ook Sy nuwe Liggaam op aarde, beskryf as die nuwe Mens wat God geskep het. Ja, is Hy Adam. Maar Hy is ook die laaste Adam. En Hy, en dus ook elkeen wat nuutgebore, nuutgeskape mense is, is nou die nuwe Israel. Hy, en hulle, is ook die Eersteling/Eersgeborene uit die dood. Sjoe, kou ʼn bietjie hieraan! |
Jesus in ons (Deel 9)
Nuusbrief
Hits: 225