Vir jare praat die Here reeds met my hieroor. Dit is egter nou eers dat Hy my die vryheid gee om openlik hieroor te profeteer.
So, gordel vas, want dit is wat ek die Here hieroor hoor sê.
Natuurlik, soos oor enigiets wat ek of enigiemand anders profeties bedien, weet jy wat God hieroor sê.
Soos daar in 1 Tess. 5:19 e.v.
“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.
Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.
Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!
Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.
Broers, bid ook vir ons.”
So, wat sien ek in God se Woord en hoor ek Hom sê oor die nuwe wynsak wat in staat is om dit wat Hy in die Ekklesia wil doen, te akkommodeer om Sy Koninkryk te laat kom op aarde?
Kan ek jou net vinnig herinner oor wie ons praat as ons van die “Bybelse Ekklesia” praat?
Ons praat natuurlik van mense wat die een of ander tyd in hulle lewe ’n persoonlike geloofsontmoeting gehad het met ʼn lewende Jesus, God die Seun, as Verlosser, Here en Koning.
Hy het Sy genade wat Hy deur Sy menswording, lewe, sterwe, en opstanding, aan elkeen van ons deur Sy Woord en die Gees kom aanbied. Ons het dit in geloof aanvaar en gekies om Hom vir die res van ons lewe te dien en te volg.
So het God die Gees ons nuutgemaak, “wederbaar” sê Jesus daar in Johannes 3, en het Hy in ons kom woon om ons te lei en te leer alles wat Jesus vir ons gedoen het.
God die Gees wil nou elkeen wat deel is van die Ekklesia, bonatuurlik toerus en salf met die gawes van die Gees sodat die Here ons kan gebruik as getuies en ambassadeurs van die Koninkryk van die hemel hier op aarde.
Vir ons, sê Jesus verder: Bo alles, bly soek en wees sensitief vir My stem, want Ek wil julle elkeen wys hoe julle inpas in My plan om My Koninkryk te laat kom en wat My wil vir jou lewe is.
Vir ons sê Jesus verder, bv., daar in Johannes 13:34,35: “Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Op soveel plekke in Sy Woord, spel Hy dan vir ons uit wat liefhê en familie-wees in Jesus prakties beteken en hoe dit lyk.
Jy onthou immers wat alles hieroor staan in Skrifgedeeltes soos 1 Kor. 12 tot 14; Johannes 14 tot 17; die hele boek van Efesiërs; en 1 Johannes.
Weet jy dat die woord, “Ekklesia” binne die tipies Romeinse Ryk verwys het na hierdie groepie uitverkore, toegeruste individue wat Rome dan uitgestuur het om êrens in die Romeinse Ryk, lokaal in ’n dorp of stad, “neergesit” te word, om daar die nuwe, beter manier van lewe, en waardes en hoop vir ’n beter toekoms, tussen al die mense in daardie gemeenskap prakties te gaan demonstreer en uit te leef.
Op so ’n manier dat daardie gemeenskap “iets van hemel op aarde” daar tussen hulle kan proe en beleef!
So is die Ekklesia van Jesus geroep om ambassadeurs en verteenwoordigers te wees van ʼn nuwe, beter lewe, om die “Koninkryk van die hemel” hier op die aarde te laat gebeur! Mense om ons moet dit sien en beleef in die manier hoe ons mekaar liefhet en vir mekaar omgee en sorg.
Volgende keer gesels ek verder oor wat die Here profeties hieroor sê.