Ons is besig om te gesels oor wat ek hoor die Here profeties oor “die nuwe wynsak” sê wat die Bybelse Ekklesia nou kan akkommodeer.
Die nuwe prentjie van die Bybelse Ekklesia wat ek sien is waar die gemeenskap om ons werklik “Bybelse koinonia” of “liefdevolle saam wees” en daar wees vir mekaar in alle opsigte, 24/7, sien en beleef.
Waaraan gaan hulle dit sien?
Hulle gaan iets sien van wat destyds in Jerusalem en in ander geloofsfamilies waarvan ons in Handelinge lees, gesien en beleef is.
In dinge soos: Hoe ons mekaar prakties liefhet, en selfs bereid is om alles met mekaar te deel, behalwe ons huweliksmaats!
Luister na wat daar in Hand. 2 en 4 hieroor staan.
“Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.
Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
Hulle het almal elke dag getrou… bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind.”
En: “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”
Hoef ek te vertel hoe die Ekklesia doelbewus en gefokus deel geword het van die gemeenskappe waarin die Here hulle neergesit het, om daar tussen hulle heeltyd op die uitkyk te wees na wat die werklike nood daarrondom hulle is, en om dan sensitief te luister na hoe die Here hulle wil gebruik om daardie nood bonatuurlik te bedien.
Verder het hulle sensitief gewag op oop deure met oop harte vir geleenthede om te getuig oor die Goeie Nuus van die Koninkryk van God wat ook vir hierdie mense en hierdie gemeenskap aangebreek het.
In ’n wêreld wat demonies gedryf en gemanipuleer word deur ’n gees van gierigheid, ego’s en vrees, gaan die Here ons gebruik om soos 1 Tess. 5 sê, ʼn nuwe, beter manier en styl van lewe, prakties uit te leef daar tussen hulle.
Luister hoe teken Jesus dit?
Hy teken vir ons die Ekklesia wat letterlik op die voorstoep van die hel neergesit word! Met die belofte en wete in hulle hart van die God wat hulle daar neergesit het. Luister wat staan hieroor in Matt. 16:
“Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.
En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots (CN – van jou getuienis) sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
In Matteus 5, teken Jesus die Ekklesia binne hierdie nuwe wynsak as die Lig en hierdie Stad op die berg:
“Julle is die lig vir die wêreld. ʼn Stad wat op ʼn berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ʼn mens nie ʼn lamp op en sit dit onder ʼn emmer nie maar op ʼn lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
So gaan ons telkens geleenthede kry om die demoniese geeste trompop teë te staan in die Naam van Jesus.
Hy gaan ons gebruik om nood, seer, trauma, stukkende verhoudinge, en selfs armoede en die wortels daarvan, te gaan bedien en aan te spreek in die Naam en met die krag van ons Koning.
Daarom kan ons binne hierdie nuwe wynsak nie vrede hê met al die onskriftuurlike leringe, tradisies, en demonies-gedrewe verdelings en verdeeldheid wat in die “KRO” (“kerk rondom ons”) op allerhande maniere sy kloue nog in God se mense het, en wat oral so gereeld uit-pop en dit wat God werklik wil doen, blokkeer of in die wiele ry nie.
Omdat hierdie nuwe wynsak so revolusionêr nuut en anders is, gaan dit nie baat om te probeer om die bestaande mensgemaakte kerkstrukture te probeer herstel of te vernuwe nie.
Nee, dit gaan ’n radikale paradigmaverandering vra waar ons God toelaat om deur Sy Woord en Gees “nuwe wyn” aan ons te bedien en ons dit begin drink!
Die res sal dan natuurlikgewys self volg.