’n Vars nuwe Koninkryk-ekonomie! (deel 1)

Die Here het profeties met my begin gesels oor wat ek die nuwe, vars Koninkryk-ekonomie wil noem.

Hy herinner my aan die gebeure in Numeri 13 waar Moses opdrag van die Here ontvang om manne uit te stuur om die land Kanaän wat Hy aan die Israeliete wil gee, te verken.

Dan lees ons in vers 23 die volgende: “Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye. “

Ek en ander rondom my, beleef tans dat die Here besig is om vir ons nuwe openbaringe, nuwe patente, nuwe platforms en sisteme te wys, waarop en waardeur die ekonomie van God se Koninkryk los en apart van die tipiese Babiloniese sisteem waaraan ons so gewoond is, kan plaasvind. En sê Hy: Dit gaan wees soos hierdie reuse druiwetros uit die Eskolspruit wat God se mense na hulle asem laat snak en laat sê: Ons wil deel hieraan hê!

Om in Kanaän, die land van melk en heuning te kom, moet ons soos Openbaring 18:4 sê, uit Babilon (as teenbeeld van Egipte destyds) kom. Dit gaan beteken dat ons in geloof waag en ja sê om nou in te stap in wat God se Koninkryk se koms van ons gaan vereis; ja, ʼn nuwe Koninkryk ekonomie, en alles verder wat God se Gees aan ons openbaar in die verband.

Binne hierdie nuwe Koninkryk-ekonomie het ons as God se mense net een burgerskap, want ons is burgers van die Koninkryk van God hier op aarde, en deel van die Stad op die berg waarvan Jesus gepraat het, wat gebou is op die fondasie van die Koninkryk.

Begin verstaan hoe geld en bates binne die Koninkryk van God werk!

Gedurende die afgelope jaar het die Here jou op baie maniere, ook deur hierdie bediening aan jou, begin wys hoe werk geld en ons bates binne God se ekonomie.

So het die Here ons geleer dat alles, alles, alles, aan God alleen behoort. Al die land, al die goud en die silwer, ja, alles op aarde en in die hemel.

Hy leer ook aan ons in Sy Woord dat ons as Sy mense, Sy Ekklesia, alles geërf het in Christus Jesus!

Dink ʼn bietjie mooi oor wat dit presies beteken!

Kyk ons rondom ons, lyk dit asof die Liggaam van Jesus niks het nie, of skynbaar net genoeg het om te oorleef elke dag!

Daarom is ek so dankbaar vir wat die Here ons hieroor leer. Ja, dat Hy ons meer begin leer het oor hoe geld en finansies en bates behoort te vloei binne die konteks van die Koninkryk wat hier op aarde moet kom.

So het Hy ons geleer dat alhoewel geld neutraal is, is die vraag wat belangrik is: Is dit in diens van Mammon of in diens van God en Sy Koninkryk?

Geld is altyd aan die werk. Die vraag is net: Aan wie se kant werk geld?

So wys die Here hoe Sy mense, omdat ons die leuens van die vyand glo, dit wat Hy ons gee, investeer in die wêreld se sisteme, in diens van Mammon!

So werk dit in diens van die vyand, in besighede, maatskappye, banke en ander finansiële instansies wat besig is om die vyand se agenda op aarde te laat gebeur.

Dink maar net aan al die genoteerde maatskappye op die aandelebeurs, hier by ons in Suid-Afrika maar ook oral in die wêreld. Dink hoe hoeveel van hulle het ingekoop in die tipiese WOKE-agendas van die wêreld en is besig om op die een of ander manier aborsie en ander demonies gedrewe oogmerke te bevorder.

Oral op aarde hoor ek God se mense vra: Maar, Here, waar is die geld wat ons nodig het om te doen wat U ons beveel het om U Koninkryk te laat kom?

Dan hoor ek Hom antwoord: Ek het reeds soveel geld vir My kinders in die Liggaam gegee maar wat het julle daarmee gedoen? Kyk net hoeveel daarvan het julle gebruik om julle eie selfsug, gierigheid, ego’s, en vrese te dien?

Waarom het julle soveel daarvan in diens van Mammon en die vyand beskikbaar gestel?

Soveel van julle gee selfs vir die “kerk”, of gee om “kerke” en “kerkgeboue” te bou en te onderhou, omdat julle glo dat julle so vir My en vir die Koninkryk gee, maar julle sien nie die houvas van Mammon en Babilon raak binne daardie kerksisteme nie.

Dit het tyd geword dat julle by My voete moet kom sit sodat Ek vir julle My hart kan wys en ook waarmee Ek al so lankal rondom julle besig is!