Genade is waar Jesus die Koning is (Deel 2)

Daar in Johannes 1 lees ons die volgende:

 

 

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het Sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.”

 

 

Dan staan daar ook in vers 16 tot 18:

 

 

“Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.”

 

 

Waar ons werklik glo dat Jesus, God die Seun, nou ook die Koning hier op aarde en in hulle eie lewe is, gebeur soveel dinge, verander soveel dinge!

 

 

Twee van die dinge wat gebeur in en rondom ons is dat God se genade en waarheid ons lewe begin verander, maar ook alles rondom ons.

 

 

Dit is wat gebeur as Jesus as die Koning instap in mense se lewens. Dinge kan nie meer dieselfde bly nie. Bekering moet plaasvind en aanhou plaasvind.

 

 

Dit is oor hierdie genade-kant en waarheid-kant van die Evangelieboodskap oor die Koninkryk wat ek met jou oor wil gesels.

 

 

Ek weet nie of jy weet nie, maar die Joodse Nuwejaar, Rosh Hashanah, was 3-4 Oktober 2024, en die jaartelling volgens die Joodse kalender van die jaar wat aangebreek het, is die Jaar 5785.

 

 

Dit beteken dat ons vanjaar, 2025, volgens die Joodse kalender, steeds in hierdie jaar 5785 is.

 

 

Waarom dit belangrik en profeties insiggewend is, is oor daardie twee 5-we in die Joodse jaartal en die 5 in ons jaartal, 2025.

 

 

Het jy geweet dat die getal 5 profeties net een woord uitskreeu: Genade!

 

 

Die getal 5785 sê as’t ware: Genade aan die begin, en genade aan die einde! Genade aan die voorkant, en genade aan die agterkant. Van die begin tot die einde is dit net God se genade aan alle kante!

 

 

Maar nie net enige soort genade nie. Nee, dit is Jesus-genade; dit is Koninkryk-van-die-hemel-soort genade!

 

 

Soos Johannes 1 vir ons dit teken: Dit is die soort genade wat altyd ook ʼn waarheid-kant het! Waar mense dus sê dat hulle God se mense is, Ekklesia is, gelowige volgelinge van Koning Jesus is, sal hierdie genade van God tasbaar wees. Sal mense hierdie genade kan proe en kan ruik. Hulle sal dit beleef as hulle tussen ons is en met ons te doen kry. Hulle sal hierdie genade proe en ervaar as hulle sien hoe ons mekaar liefhet en versorg.

 

 

Genade begin altyd daar aan die voet van die kruis van Jesus. Waar mense sien en beleef hoe ʼn God wat hulle so liefgehad het dat Hy Sy Enigste Seun, self God, gestuur het om ʼn mens te word en om Sy lewe te gee sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Joh. 3:16)

 

 

Daar aan die voet van die kruis ontdek mense wat dit nie verdien het nie, hoe God Sy hande vol genade na ons toe uitsteek en hoe Hy vir ons elkeen sê: Dé, dit is ook vir jou! Vat dit in geloof! Kies om dit te glo dat Hy dit ook vir jou gedoen het!

 

 

Aan elkeen wat Hom aangeneem het, ja, wat glo dat Jesus werklik God was wat mens geword het en tussen ons kom woon het, om ook vir my en my sonde aan die kruis te sterf, maar ook opgestaan het om nou die nuwe Koning ook hier op aarde te wees, elkeen wat dit glo, word deur hierdie genade verander in kinders van die lewende God. (Joh. 1:12)

 

 

Sê my, glo jy dit?

 

 

Was daar ʼn dag en ʼn datum waar jy gekies het om te begin glo dat Jesus dit ook vir jou gedoen het?

 

 

Miskien weet jy nie altyd presies van wanneer af jy dit glo nie. Miskien moet jy dan tog êrens ʼn dag en ʼn datum kies wat jy soos ʼn pen in die grond kan inkap en wat jy kan gebruik om langs tekste soos Joh. 3:16 en Joh. 1:12, of 1 Joh. 5:12-14, neer te skryf in jou Bybel, wat jy kan vasgryp daardie dae as daar twyfel kom, of as die vyand jou wil kom belieg en bedrieg.

 

 

Wat belangrik is, is dat jy kan seker wees en kan weet dat as jy vandag sterf, jy met sekerheid kan weet dat jy gered is, God se kind in Jesus is, en nie verlore sal gaan nie!