Ek gesels steeds met jou oor “genade” in die konteks van die Koninkryk van God wat hier op aarde besig is om te kom. En spesifiek om regtig te probeer om profeties, maar ook sensitief vir die stem van God se Gees wat ook vandag met ons aan die praat is, te kyk na ons realiteit en die wêreld om ons.
“Profeties” beteken vir my om te besef dat daar agter alles wat ek met my gewone oë kan sien, ook ʼn ander, onsigbare, maar net so werklike, realiteit is.
Daardie ander, onsigbare realiteit “sien” en “ontdek” ons as ons oop is vir God se stem en vir wat God aan ons wil openbaar en wys waar ons stil in Sy teenwoordigheid kom sit en “luister” en “kyk” en “ervaar” wat Hy nou vir ons wil wys.
Dit is met hierdie “sintuie” wat ek saam met jou wil kyk na alles in ons eie lewe, en wat rondom ons aan die gebeur is.
Dit is met hierdie “sintuie” wat ek wil hê ons moet kyk na byvoorbeeld, ons eie gesondheid, ons finansies, ons huwelik, ons gesin en ons familie, maar ook na wat rondom ons aan die gebeur is in ons gemeenskap, ons dorp, ons stad, of daar op die platteland, waar ook al jy woon en God jou neergesit het.
Dit is met hierdie “sintuie” wat ek wil hê jy moet “profeties” kyk na wat aan die gang is in die politiek van die land waarin jy woon. En wat aan die gang is op die ekonomiese front, of in die onderwys, of in die sosiale media, of in die musiekwêreld.
Kom ek probeer om dit alles in terme van hierdie “genade-kant” en hierdie “waarheid-kant” oor te sê.
Dit is asof God vir elkeen van ons ʼn nuwe bril wil gee om na ons eie lewe en alles rondom ons te kyk. Hierdie bril gaan jou help om ʼn “genade-kant” in elke ding raak te sien, maar ook om te besef daar ʼn “waarheid-kant” in alles is.
Ja, het jy gehoor? Daar is ʼn reg en verkeerd. Daar is waarheid en daar is die mening van mense.
Jesus Christus is die Koning, en Sy wil en Sy Woord is wet en openbaar aan ons wat is waarheid en wat is leuen, en wat is reg en wat is verkeerd!
Kom ons kyk nou met daardie oë na die Joodse jaartelling, 5785, en na 2025.
Ek weet nie of jy weet nie maar elke syfer in Hebreeus is nie net ʼn syfer nie maar ook ʼn letter wat iets simboliseer. So, het ons reeds vir mekaar gesê, verteenwoordig die syfer 5 die manjifieke reënboog-kleurige genade van God.
Net so verteenwoordig die syfer 5 die Hebreeuse letter, “Hei”.
In die jaartal, 5785, is ons tans in die 80’s van hierdie Joodse jaartelling. Die Hebreeuse letter vir die 8 in die 80, is die letter “Pei” wat “die mond” simboliseer.
Die Joodse jaartelling vertel dus profeties ʼn storie, naamlik van “God se mond/stem” wat op allerlei veelkleurige maniere besig is om met ons te praat oor Sy genade (en waarheid) wat in en rondom ons besig is om te gebeur soos wat Sy Koninkryk rondom ons kom!
Daarom wil ek gedeelte afsluit met die woorde van Ef. 5:15 tot 17.
“Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef – nie as onverstandiges nie, maar as wyses. Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is.”
Hoef ek enigsins verder te verduidelik wat hierdie verse vandag vir jou en my beteken? Ek dink nie so nie. Luister jy maar self na wat God se Gees self vir jou, daar in jou eie praktiese situasie en realiteit, vir jou en jou mense wil sê.
Al waarop ek ten slote wil klem lê is die volgende:
“Koop die tyd uit!”
Begin “profeties” kyk na hoekom en waarom God jou daar neergesit het waar Hy jou neergesit het. Kyk profeties na wat nou, vandag, môre, hierdie jaar, in jou en jou familie se lewe gebeur. Hoekom maak die Here die deure oop wat Hy oop maak, en hoekom maak Hy die deure toe wat Hy toemaak?
Wat sê Hy vir jou oor wat Sy wil vir jou lewe juis vir nou is?
Wat sê Hy vir jou oor hoe Hy jou en dit waarmee Hy jou seën, nou wil gebruik?
Luister na wat God se Gees vir jou wil sê.
Reageer dan in gehoorsaamheid en in geloof.