Genade is waar Jesus die Koning is (deel 4)

Kom ons probeer om “genade” ʼn Afrikaans nuut oor te sê en te beskryf.

Natuurlik beteken “genade” dat dit ʼn geskenk is wat ʼn mens nie verdien nie.

Dit word verniet, onverdiend, gratis, aan jou gegee.

God gee dit aan jou omdat Hy ʼn goeie, liefdevolle God is. Dit is wie Hy in die diepste van Sy wese.

Wat behels hierdie geskenk van “genade” alles?

Deel van hierdie “genade-geskenk” is alles wat Jesus vir ons in en deur Sy lewe, Sy kruis, Sy dood, Sy oorwinning oor die magte van die hel, Sy opstanding uit die dood, en Sy heerskappy nou aan die regterhand van die Vader, as die Een op die troon, as die Koning van alle konings, vir ons gedoen het en steeds besig is om te doen.

Deel van hierdie “genade-geskenk” is dus die totale verlossing wat Christus Jesus vir my en jou bewerk het en reeds behaal het. Dit sluit ook die totale versoeningswerk in wat Hy daar aan die kruis deur Sy bloed en die offer van Sy Liggaam volledig afgehandel en klaargemaak het vir elkeen van ons.

Dit sluit vergifnis, regverdigmaking, genesing, restourasie, heiligmaking, en oorwinning vir elkeen van ons tot die einde van ons lewe in.

Dit beteken ook dat deel van hierdie “genade-geskenk” is dat God ons toerus en belowe dat Hy ons steeds dag vir dag gaan toerus met alles wat ons nodig het om dit te doen wat en waarvoor Hy ons wil gebruik in Sy groter plan.

Dit waarvan God se Gees profeties daar in Ef. 2 praat: “Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”

Soos wat iemand in Engels dit gesê het: “God set us up in His grace in Christ Jesus for the success He has in mind for us.”

“Bekeer julle”, in Hebreeus, is “teshuv ah”. Wat as ons dit letterlik kan vertaal met “bekeer julle terug na “Hei” sou kon beteken.

Die Hebreeuse letter “Hei”, word egter ook baie keer gebruik om die heilige Naam van God mee te vervang.

Ons sou dit dus opsommend kon vertaal met: “Keer terug na God en Sy genade!”

Ek wil jou ook herinner aan wat die Gees van God vir Paulus in 2 Kor. 12 aan herinner het, naamlik: “Onthou dat My genade altyd vir jou genoeg is!”

As ek hieroor prakties moet dink wat dit beteken as ek dit alles werklik glo, beteken dit dat ek moet sê: Ek kies om in hierdie deel van my lewe, in hierdie area of aspek van my lewe, weer Jesus as Koning te dien en te volg, kom wat wil!

Ek kies om ook in hierdie deel van my lewe God se genade aan my in Christus Jesus te glo en te eer!

Natuurlik verstaan ons nie altyd wat dit presies behels en gaan kos nie! Alles begin egter by die keuse om dit te glo en om te kies om dit elke dag te glo, kom wat wil!

Vriende, maak vandag die dag wat jy weer kies om Jesus as die Koning onvoorwaardelik, ongeag wat dit gaan kos, te volg en te gehoorsaam in elke deel van jou lewe!