Kom ons blaai na 1 Kor 12:7-10.
Kom ek probeer om kortliks die verskillende gawes wat Paulus hier noem teen die agtergrond van die hele konteks van 1 Kor. 12 tot hoofstuk 14 te verduidelik.
Sonder die kokon van die liefdesgemeenskap tussen gelowiges in die gemeente (of “ekklesia” soos dit in die Grieks eintlik staan), kan die gawes van die Gees nie werklik tot hulle volle reg kom soos God dit bedoel het nie. (Lees gerus 1 Kor. 13 in die verband.)
Die eerste paar verse in 1 Kor. 12 verduidelik verder dat ons hier te maak het met “gawes” of geskenke wat God die Seun, deur die werking van die Gees van God, aan Sy mense gee. Dit is belangrik om dit te verstaan, want ‘n gawe is nie iets waaroor jy kan roem asof dit jou eie prestasie is nie.
Ek gebruik altyd die beeld van ‘n vrugteboom wat in die regte grond geplant en gewortel is as ‘n beeld van die Christen se lewe in Christus. As ons in Christus gewortel is en Sy Gees in ons in beheer is van ons lewe, sal ons die “vrug van die Gees” sien in ons lewe, waarvan Gal. 5:16 tot 26 praat.
Die “gawes van die Gees” is soos verskillende soorte liggies wat God die Seun, as Doper met die Gees, self in ons lewens kom ophang wanneer Hy dit wil doen. Dit is nie bedoel om permanent altyd deel van ons lewens te wees nie. Hy wil en kan, wanneer Hy wil, daardie gawe of gawes laat vloei om iemand daarmee te bedien soos en hoe Hy wil.
Daarom vergelyk ek die vloei van die gawes verder daarmee dat ek en jy soos ‘n tuinslang is wat gekoppel moet bly aan die kraan, naamlik Christus Jesus. Solank ons gekoppel is aan die kraan, kan Hy die kraan oopdraai wanneer Hy wil en kan Hy, wat Hy dan ook al wil, deur ons laat vloei na ander toe. Ons moet net sensitief wees vir Sy stem om te wees waar Hy wil hê ons moet wees (as die punt van die tuinslang), om dan te beleef hoe God ander deur ons bedien met die “strome lewende water” waarvan Jesus in Joh 7:38 en 39 gepraat het.
Kom ons kyk ‘n bietjie na die verskillende “liggies” of “gawes van die Gees” wat hier genoem word:
“‘n Woord van wysheid” – Dit is nie dieselfde wysheid waarna Jak. 1:5 verwys nie. Dit gaan hier oor “‘n woord van wysheid” wat bonatuurlik van God af kom in ‘n spesifieke situasie of teenoor ‘n spesifieke persoon of persone. Ons sien hierdie gawe opereer in bv. 1 Kon. 3:10 tot 12, in Salomo se lewe, en in Mat. 22:15 tot 22, in Jesus se lewe. Die “wysheid” waarvan hier sprake is, is insig in God se wil. Dit gaan oor ‘n perspektief op gebeure en sake wat jy direk uit die hemel kry sodat jy, en die hoorder of hoorders, as’t ware opgelig word uit die insig-belemmerende omstandighede waarin julle julle bevind wat maak dat julle heeltyd net daarteen vaskyk, om dan te kan sien hoe dinge inpas in God se planne en besigwees.
“‘n Woord van kennis” – Dit gaan hier oor bonatuurlike detail-kennis wat God se Gees aan mense bedien. Hierdie detail-kennis kom meestal soos gedagtes by die een op wat God so wil gebruik en wat daardie persoon dan presies so moet bedien aan wie die Here sê dit voor bedoel is. Ons sien hierdie gawe bv. in Joh. 4:15 tot 19 in Jesus se lewe opereer.
Die gawe van buitengewone “geloof” – Dit gaan nie hier oor gewone geloof wat van elkeen van ons as gelowiges gevra word nie. Dit gaan daaroor dat God se Gees aan gelowiges in sekere situasies “bonatuurlike geloof” gee om God te vertrou om daar wonderbaarlik in te gryp en ‘n wonderwerk of ‘n genesingswonder te doen.
“Die gawes van genesing” – Let op dat hier in meervoud na die genesingsgawes verwys word, want daar is meer as een gawe van genesing. God genees mense in hulle gees, waarvan ons praat as “wedergeboorte”. Maar ook in hulle sielsarea as Hy mense emosioneel bedien, of hulle gedagtes of wilskeuses bonatuurlik verander en genees. Maar dan is daar ook fisiese genesing wat God deur Sy Gees bonatuurlik oombliklik of oor ‘n tyd kan doen.
Volgende keer bespreek ek die ander gawes wat in hierdie gedeelte genoem word.