“Die krag om wonders te doen” – Ons sien hierdie bonatuurlike gawe van die Gees bv. opereer as Jesus water in wyn verander (Joh. 2:1-11), en die brood vermeerder in Joh 6.
“Die gawe van profesie” – 1 Kor. 14 in geheel handel oor die belangrikheid van hierdie gawe. Die verse van besondere belang is: vers 1,3 en 29 tot 33. Hierdie is die een gawe van die Gees wat ons van God “kan begeer”. Ons kan God dus vra om ons in hierdie gawe meer en meer te gebruik in mense se lewens. Die ander belangrike Skrifgedeeltes in die verband is 1 Tess. 5:19 tot 21 en 1 Joh. 4:1 en 2.
“Die gawe om tussen die geeste te onderskei” – Hier gaan dit oor die bonatuurlike vermoë wat God gee om te kan onderskei wie in ‘n bepaalde situasie aan die werk is. Is dit God of is dit demonies? Ef. 6:12 is hier van belang.
“Die gawe van allerhande tale” – Hier gaan dit oor waarna ons gewoonlik verwys as ‘n “hemelse taal” wat gewoonlik onverstaanbare klanke is wat God se Gees ons bonatuurlik gee om mee te praat of mee te bid. Vgl. 1 Kor. 14:2,4,15 en 18 en Rom. 8:26 in die verband.
Soms gee God se Gees bonatuurlik ook aan gelowiges ander bestaande “tale” wat hulle dan kan praat al het hulle dit nooit êrens self geleer nie. Hiervan lees ons bv., in Hand. 2 byvoorbeeld.
Maar onder hierdie bonatuurlike “tale” val ook die gawe wat God se Gees bonatuurlik gee as Hy deur ‘n gelowige of twee, in die byeenkoms van gelowiges ‘n woord in ‘n onverstaanbare taal gee. Maar dan sal Hy ook die “gawe om dit uit te lê” gee. Vgl. 1 Kor. 14:26,27.28 en 39.
“Die gawe om dit uit te lê “– 1 Kor. 14:13 en 28 is hier van belang. Vers 25 wys dan wat die bedoeling van God daarmee in die byeenkoms van gelowiges is.
Ek hoop ek het hiermee jou gehelp om meer duidelikheid hieroor te hê.