Ek wonder of jy weet hoeveel keer moet ek soms dit wat ek vir jou hier skryf, oorskryf! Om baie redes. Een van die belangrikste redes daarvoor is gewoonlik omdat ek beleef het dat ek dit wat die Here wil hê ek moet sê, net nie duidelik genoeg neergeskryf het nie. Hierdie gedeelte wat jy nou hier lees, was weer so ʼn geval!
Ek het besef dat wat ek en jy in Efesiërs 4:11 tot 16 lees, radikaal verskil en anders lyk as wat ek en jy in die gemeentes rondom ons beleef.
Kom ek haal net weer hierdie verse aan:
“En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”
Van die relevante dinge wat jy moet raaksien, is:
Eerstens, die “vyfvoudige bedieninge” waarvan hier gepraat word, kom nooit net in een persoon voor nie.
Prakties beteken dit dus dat in die gemeente of familie gelowiges waarbinne jy lokaal die Here aanbid en dien, se “leier”, of “pastoor”, of “dominee”, as hulle een van hierdie vyfvoudige bediening is, gaan of as ’n apostel, of as ’n profeet, of as ’n leraar, of as ’n herder, of as ’n evangelis, primer funksioneer en God se mense so te bedien met die gawes wat die Here aan hom of haar gegee het. Moet dus asseblief nie van daardie een persoon verwag om hierdie uitstekende prediker en leraar te wees, en nog boonop hierdie uitmuntende herder met ’n herdershart te wees nie!
Daarom kry ek die “dominee” binne die tipiese gereformeerde gemeentes so jammer, want uit my 15 jaar se ervaring as ’n gewone “dominee”, weet ek dat die verwagtinge volgens die bepalings van die kerkorde, 60% van hierdie dominees en hulle gades êrens in hulle bediening laat uitbrand of byna laat uibrand!
Tweedens is dit belangrik om in hierdie verse in Efesiërs 4 op te merk dat Jesus die vyfvoudige bedieninge gegee het om binne die EEN LIGGAAM, die EEN ware Bybelse Ekklesia, te funksioneer en te bedien.
Hoef ek vir jou daaraan te herinner dat die kerk van die Here Jesus wat ona rondom ons in ons dorp of stad of omgewing sien, byvoorbeeld hier in Suid-Afrika, ’n gemeente van een van ten minste 30 000 verskillende kerke of denominasies is! En dat elkeen van hulle werklik glo dat hulle die “enigste ware kerk van Jesus” is waar die volle waarheid geleer word!
Besef jy watter geestelike dilemmas veroorsaak hierdie oortuiging?
Onthou elkeen van hierdie 30 000 verskillende kerke en denominasies het hulle “eie leer” en dit wat hulle glo reg en volgens die Bybel is. Daarvolgens lei hulle leiers op om te kan bedien in daardie spesifieke groep of deel van die kerk van Jesus.
As jy dus nie deel van hierdie geloofsgroep of teologiese oortuiging is nie, kan jy nie binne daardie gedeelte van die kerk sommer net bedien nie.
Dit bring my terug by wat hier in Ef. 4:11 tot 16 staan.
As my stelling korrek is, naamlik dat die vyfvoudige bedieninge, bedoel is om soos die normale bloedsomloopstelsel van die liggaam binne die EEN LIGGAAM van Jesus te funksioneer, gaan bostaande realiteite geweldig ernstige konsekwensies hê!
Dit gaan beteken dat omdat sekere van die vyfvoudige bedieninge eenvoudig nie “toegelaat gaan word” om daar te bedien nie – as gevolg van bepaalde teologiese geloofsoortuigings van daardie groep in die Liggaam van Jesus – kan die “bloed”, lewe en geestelike voeding net nie altyd uitkom by al die dele van die Liggaam soos Jesus dit wil hê nie!
Volgende keer gesels ons verder.