In die lig van Esegiël 37:1-10 se profetiese woord.
“Die hand van die Here was op my. Hy het my deur die Gees van die Here uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog!
Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit.” Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. So sê my Heer, die Here vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”
Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was 'n geluid net toe ek profeteer – 'n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie.
Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”
Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – 'n buitengewone groot leër!”
Daarom is God se Woord aan Sy Liggaam ...
Dit is tyd om op te staan, Liggaam van Jesus!
Luister, verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. So sê my Heer, die Here vir julle:
“Kyk, Ek gaan Gees in julle laat kom, en julle sal leef. Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”
As jy luister en kyk, met die ore van jou gees, en met die oë van jou gees, sal jy al van lankal af die geluide en tekens hoor en sien van hierdie herlewing in die Liggaam!
Dit is nou tyd om te hoor hoe God ons aanspoor om verder te roep na Sy Wind, die Gees-wind!
Roep, bid, smeek God se Gees om te kom en lewe te gee!
Roep, bid, smeek: “O Heilige Gees, kom uit die Noorde, die Suide, die Ooste en die Weste! Bring nou lewe in hierdie Liggaam!”
Want God kan hulle, om so baie redes, nog steeds nie gebruik soos en hoe Hy nou wil nie!
Daarom roep ek hiermee God se uitgekose, gesalf- en toegeruste apostels, profete, herders, leraars en evangeliste, op om op te staan en om te begin doen wat hulle moet doen, daar waar en hoe God hulle geplaas en geroep het.
“Begin om God se Liggaam, elke gelowige in die Liggaam, toe te rus vir hulle diens en sodat die Liggaam van Christus opgebou kan word en kan funksioneer soos Jesus, die Hoof, dit bedoel het.”
So sal elke lid in die Liggaam uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God.
Dan sal hulle, as Jesus se Ekklesia en Kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.
Dan sal elkeen van hulle nie meer kinders wees nie; hulle sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars hulle met slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
Nee, elke lid sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.
Hy is immers die Hoof van die Liggaam, en uit Hom groei die hele Liggaam.
So sal ons ook ontdek dat die verskillende liggaamsdele by mekaar pas en saam ’n eenheid vorm. En ons sal dit lokaal, in gemeenskappe, dorpe, stede en op die platteland sien gebeur. Ja, ons sal die eenheid wat Jesus die Hoof in die Liggaam bedoel het om te wees, sien en belewe! En ons sal die impak daarvan sien wat hulle sal saam in daardie gemeenskappe sal hê.
En ons sal sien hoe elke gelowige, klein en groot, waar God hom of haar ook al geplaas het, sy funksie vervul, en hoe hulle mekaar en ander liefhet soos Jesus ons opdrag gegee het.