Hoe lyk dit as God se mense werklik glo God die Gees woon in hulle en is op hulle?

Nou dat ek jou vanuit die Skrif gewys het hoekom Jesus vir Sy volgelinge belowe het dat Hy hulle nie as “weeskinders” gaan agterlaat nie as Hy teruggaan hemel toe om aan die Regterhand van God die Vader te regeer as die “nuwe Koning”. Hy gaan immers God die Gees self stuur om in hulle te kom woon om altyd by hulle te wees en self hulle te lei en te leer soos wat Jesus die afgelope drie jaar dit gedoen het.

Jesus het verder vir hulle verduidelik hoe God die Gees hulle gaan toerus en salf met dieselfde bonatuurlike gawes van die Gees wat hulle die afgelope drie jaar sien funksioneer het in Sy lewe elke dag. Daarom sien ons van die begin af, in die vroeg Christelike gemeente na die uitstorting van God die Gees op God se mense, hoe elke gelowige ʼn getuie en instrument word in God se hand.

Ons sien nuwe bekeerlinge wat die “normale geestelike geboorte” ondergaan daardie eerste dag of dae van hulle bekering, wanneer hulle kies om in geloof Jesus aan te neem, en gedoop is in water en gedoop is in die Gees, volgens Handelinge 2:37 tot 39. Dan sien ons hulle van dag een af as “getuies” van ʼn onsigbare God wat Homself aan ons kom openbaar het in Jesus die Christus se menswording, lewe, kruisiging en opstanding.

Kom ek wys vir jou uit die Skrif hoe dit prakties lyk wanneer gelowiges dit glo en verstaan.

Blaai saam met my na Handelinge 3 en lees hierdie hoofstuk op jou eie tyd.

Hoor en sien jy ook Petrus staan voor daardie lam man wat hom vra vir ʼn bedel-geldtjie? Dan gebeur die volgende:

Petrus sê met geloofsekerheid vir hom: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop.”

Ja, ek hoor ʼn paar van julle sê: Ja, maar dit was Petrus, een van Jesus se twaalf dissipels wat vir 3 jaar saam met Jesus gestap en gelewe het! Ja, ek weet jy wil eintlik daarmee vir my sê dat dit dalk waar is van ʼn Petrus, maar hoe kan ons glo dat dit ook waar is van “gewone mense” soos ek en jy!

Nou maar goed, kom ek wys vir jou ʼn “gewone iemand” wat God ook op so ʼn buitengewoon wonderlike manier begin gebruik het.

Blaai na Handelinge 8 en lees ʼn bietjie hierdie hoofstuk vinnig deur.

Het jy Handelinge 8:5 tot 8 raakgelees en gehoor hoe die Heilige Gees ʼn gewone man, in hierdie geval, Filippus, begin gebruik het?

“So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad.”

Volgende keer vertel ek vir jou hoe dit vandag prakties lyk as en wanneer gelowiges dit in ons wêreld werklik glo.