Is daar ʼn manier hoe jy as ʼn gelowige jouself doelbewus kan “oefen” om die Here se teenwoordigheid in en rondom jou te ervaar?
Uit die klein bietjie wat ek die afgelope tyd eie ervaring en vanuit die Woord geleer het, kom ek deel met jou in die volgende gedeeltes praktiese wenke.
Hier is my eerste wenk aan jou.
Spandeer gefokus tyd in die Here se teenwoordigheid wanneer jy alleen is.
In 1 Tess. 5:17 staan daar: “Bid gedurig.”
As jy mooi daaroor dink beteken om te bid eintlik niks anders nie as om met die Here wat in en by jou is, te gesels. Vanuit die Woord belowe die Here immers elkeen van Sy kinders dat Hy by en in hulle is. Daarom is dit net vanselfsprekend dat ons ook met Hom kan gesels.
Ons gebedslewe is dus hierdie voortdurende gemeenskap met God self, waar ons ook al is, deur die dag of nag.
Dit maak dus nie saak of ons alleen is en of ons in ons gewone gang van sake besig is om die gewone dinge van elke dag te doen nie. Omdat die Here ons nooit verlaat of alleen laat nie, kan ons enige tyd en op enige plek met Hom gesels.
Of ons dit nou met toe oë doen of met oop oë, dit maak nie saak nie!
Uit my eie lewe het ek tog ontdek dat om hierdie gesonde en voortdurende gesprek in gebed met die Here in ons gewone lewe van elke dag te hê, moet ons onsself “oefen “ hierin daar waar ons alleen is, soos in ons binnekamer en in ons alleen-tyd met die Here.
Ek glo dit begin met ʼn keuse om elke dag, gedissiplineerd, tyd te maak om alleen met die Here te wees waarin daar ook tyd is om met Hom te praat in gebed en aanbidding. Sodat ons gedagtes nie so maklik sal begin dwaal wanneer ons deur die dag met Hom praat en op Hom fokus nie.
Kyk ons na die lewe van Jesus, sien ons hoe dit prakties lyk. Maar ons sien dit ook in die lewe van ʼn Paulus.
Ons lees byvoorbeeld op baie plekke hoe Jesus soggens, of saans laat, wanneer almal slaap, of gaan slaap, tyd doelbewus eenkant gesit het sodat Hy alleen in gebed kon wees met Sy Vader. (Markus 1:35)
Dan lees ons ook hoe Hy baie kere met Sy Vader gesels het gedurende die dag. (Johannes 5:19)
Paulus is nog so 'n voorbeeld vir ons hiervan. Ons lees hoe hy gefokus tyd in gebed spandeer het waarin hy sommer net met sy Here gepraat het. (Handelinge 16:25, Handelinge 22:17)
Dan lees ons ook hoe hy gebid het gedurende die normale dag. (Fil.1:3-4, Ef. 6:18)
In my eie lewe het “practicing the presence of God” begin toe die Here my agt jaar gelede streng aangespreek het daaroor dat ek elke dag, sewe dae ʼn week, tot soveel as 17 uur per dag, sonder ophou, hard en sonder ophou gewerk het in die bediening. Sien, ek het geglo ek doen dit vir Hom en was selfs “trots” daarop!
Totdat die Here my een oggend in my stiltetyd vasvat en vir my vra: Hoekom werk jy soos ʼn slaaf sewe dae ʼn week? Wie het vir jou opdrag gegee om so sonder ophou te werk? Ek het nie vir jou gesê om dit so te doen nie!
Daar en dan het die Here my opdrag gegee om ʼn nuwe gedissiplineerde ritme in my lewe in te bou van tienuur normaalweg elke aand te gaan slaap, sodat ek vroegdag, sonder ʼn alarm, voor enigiemand anders in my huisgesin, vars en uitgerus kon wakker word om dan tyd met Hom te kon spandeer.
Daar kon Hy dan met my gesels en ek met Hom. Daar kon Hy my voorberei en op ʼn goeie plek kry elke dag, sodat ek werklik deur daardie dag “ambassadeur” kon wees van Sy Koninkryk en spreekbuis kon wees vir Hom wanneer Hy my ook al wou gebruik deur daardie dag.