In die Here se teenwoordigheid (Tweede wenk)

Ek is besig om met jou wenke te deel uit my eie lewe en ervaring oor hoe om meer bewus te wees van die Here se teenwoordigheid in en rondom my. Hier is ʼn tweede wenk in die verband.

Gesels heeltyd en altyd met die Here

Luister net wat sê die Here vir ons in Sy Woord hieroor.

Kom ek vertel vir jou vertel wat ek hoor in ʼn gedeelte soos 1Tess. 5:16 tot 25.

“Wees altyd bly.” En: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ek hoor die Here sê dat ons elke dag ʼn keuse kan maak om Sy Gees in ons te vertrou om ons te leer om met nuwe oë en ʼn nuwe bril op na ons lewe en dit wat elke dag rondom ons gebeur, te kyk.

Dan gaan God se Gees ons daaraan herinner dat die God wat ons dien, elke dag, alles wat in ons lewe gebeur, kan gebruik tot ons beswil. As ons mooi kyk rondom ons, gaan ons gedurigdeur Sy hand in en rondom ons sien werk.

Daarom gaan daar elke dag ten minste drie dinge wees waarvoor ek die Here vroeg in die oggend, of laat in die aand voor ek gaan slaap, kan dankie sê oor wat Hy in my lewe en rondom my gedoen het.

“Bid gedurig.”

Daarom is dit deel van my daaglikse dissipline om gedurig doelbewus met Hom te gesels. Ek weet immers nou Hy is elke oomblik van die dag by my en in my besig deur Sy Gees.

As deel daarvan, maak ek dan doelbewus tyd om Hom te loof en prys terwyl ek Hom as my Here en Hemelse Vader te aanbid.

Daarom kies ek om myself te herinner dat ek, soos Psalm 91 sê, letterlik in Sy teenwoordigheid en in Sy skadu kan sit, om ook so Sy beskerming en Sy teenwoordigheid aan te voel en te ervaar.

Elke dag, dwarsdeur die dag, kan ek kies om weer en weer vir Hom te sê hoe lief ek Hom het en dat ek kies om Hom ook vir hierdie of vir daardie ding te vertrou in hierdie dag!

“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.”

Terwyl ek dan so myself gedurigdeur, dwarsdeur die dag, bewustelik herinner dat die Here self by my en in my besig is, herinner ek myself ook aan Sy Gees wat gedurig met my besig is.

Ja, God die Gees gaan elke dag met my praat, my lei en my leer. Hy gaan selfs ander mense gebruik om met my te praat en Woord vir my te gee. Die Heilige Gees se werk is immers om dit wat God in my lewe begin doen het, klaar te maak en my “te heilig” totdat ek, uiteindelik, aan die einde van my lewe, presies dit sal wees wie die Here wil hê ek moet wees!

“Broers, bid ook vir ons.”

Praat heeltyd met die Here. Hy is immers altyd en heeltyd daar by jou en in jou, voor, tydens en in alles wat jy doen. En terwyl jy met Hom praat, herinner Hom ook aan ander mense en tree vir hulle in in gebed.

Die dissipels van ouds het vir drie jaar die voorreg gehad het om saam met Jesus te kon wees en heeltyd met Hom te kon gesels.

Daar in Johannes 14 sê Jesus dan vir hulle dat wanneer Hy opvaar na Sy Vader, gaan Hy Sy mense nie as weeskinders alleen agterlaat nie. Nee, Hy gaan God die Gees, die Heilige Gees, stuur om in elkeen van Sy mense 24/7 te kom woon en om altyd by hulle te wees. Hyself, gaan in en deur die Heilige Gees wat in ons woon, self in en by elkeen van ons wees, altyd, 24/7!

Daarom het elkeen van ons as God se kinders die heerlike voorreg om onsself gedurigdeur hieraan te herinner dat Hy by ons is en dat ons heeltyd met Hom kan gesels en Sy teenwoordigheid kan ervaar en Sy stem kan hoor praat met ons.