Hier is ʼn derde ding wat ek geleer het oor hoe om meer van die Here se teenwoordigheid in my eie lewe elke dag te ervaar.
Spandeer tyd in God se Woord
Herinner jouself daar in jou “stil-word-tyd” met die Here, dat die Bybel daar in jou hande, in elke sin van die woord, “Sy Woord” is en dat Hy as die lewende God met jou deur wat jy vandag daarin gaan lees, self met jou wil praat.
Daar is soveel gedeeltes in die Bybel wat jou hieraan herinner. Dink maar aan Skrifgedeeltes soos die volgende:
2 Tim. 3:14 tot 17
“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
Heb. 4:12
“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”
Dan is daar selfs ʼn hele psalm wat jou hieraan herinner, naamlik Ps. 119. Dink aan verse soos:
Ps. 119:1 tot 5
“Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here.
Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel.
U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word.
As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou!”
Ps. 119:105.
“U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
Rom. 12:2
Om tyd in God se Woord deur te bring, is die Here se manier om jou “gedagtes te vernuwe” (Rom. 12:2).
Jak. 1:21,22
“Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”
As hier staan “die woord kan julle red”, beteken dit nie “gered word en hemel toe gaan” nie. Dit gaan eerder daaroor dat die Here ons gedagtes, gemoed, wil en emosies deur Sy Woord, deur die lees en gehoorsaam van Sy Woord, kan verander en kan genees.
Hoe meer ons dit elke dag oefen, sal dit makliker word om ons aandag op die Here te hou, en om sensitief te wees vir die stem van Sy Gees in ons lewe.
So sal die dinge van hierdie wêreld ook nie so maklik ons denke beïnvloed soos dit in die verlede gebeur het nie.