In die Here se teenwoordigheid (Vierde wenk)

Ek is besig om met jou praktiese wenke uit my eie lewe en ervaring te deel hoe die Here my vanuit Sy Woord geleer het om meer van die Here se teenwoordigheid in my eie lewe bewus te word. Hier is ʼn vierde wenk in die verband.

Praat en bid gereeld in tale

Ja, ek weet! Die meeste van ons kom uit ʼn godsdienstige agtergrond waarin die “praat in tale” vreemd, onbekend en ʼn bietjie van ʼn tameletjie is! Veral as ons uit ʼn tipiese Afrikaanse gereformeerde agtergrond kom!

Tog hoef ons net ʼn slag ontspanne die Here se Woord hieroor begin ondersoek om sommer op ʼn hele paar plekke te ontdek dat om “in tale te praat” nie ʼn Pinkster of charismatiese ding is nie, maar dat dit deel is van wat God se Gees ook in jou en my lewe wil doen en vir ons wil leer.

In my eie lewe het ek deur die Here se genade ontdek hoe die Here se Gees my “geleer het om in tale te praat”.

Ek sê dit spesifiek so want dit het nie sommer gemaklik en outomaties gekom nie. Ek moes leer om as’t ware my tong “beskikbaar te stel” om soos ʼn baba wat leer praat, te ontdek en te ervaar hoe my tong eers net klanke en nou ʼn hemelse taal, begin praat het!

Deesdae is dit selfs ’n belangrike sleutel was my leer om meer bewus te wees van die Here se teenwoordigheid in my lewe.

Die apostel Paulus het gesê dat hy meer in tale gepraat het as enigiemand anders in die Korintiese gemeente. (1 Kor. 14:18). Daarom het hy ook elke gelowige aangemoedig om in tale te  bid. (Ef. 6:18)

Dit beteken dat om ook in tale te praat en in tale te bid, deel geword het van sy normale geestelike lewe en tyd met die Here, dwarsdeur die dag, van wanneer hy wakker geword het,  gewerk het of waarmee hy ook al besig was!

Die merkwaardige ding van praat in tale is dat ons logiese verstand normaalweg nie daarby betrokke is of daardeur gedien word nie.

Tog kan die Heilige Gees ook deur die gawe van praat in tale in die openbaar, binne die vergadering van gelowiges , deur hierdie gawe met Sy gemeente praat. Maar dan sal die Here ook die gawe van uitleg van tale gebruik om aan daardie gelowiges 'n goddelike interpretasie te gee van wat gesê is. (1 Kor. 14:13)

Hoe dit ook al sy, praat in tale is ʼn besonder belangrike gawe, want sê die Bybel, ons gees word juis daardeur opgebou terwyl ons in tale praat of bid. (1 Kor. 14:4)

Soos hierdie opbouing plaasvind, help dit ons juis om makliker bewus te wees van die Here se heeltyd-daar-wees in en by ons.