Vandag wil ek met jou ʼn vyfde wenk deel wat vir my gehelp het om deurentyd bewus te bly van die Here se teenwoordigheid in my eie lewe.
Moenie jouself veroordeel nie
Broer Lawrence het my dit geleer. Hy het my geleer om wanneer my gedagtes begin dwaal en ek soms heeltemal vergeet dat die Here self daar by my is, ek tog nie sal begin skuldig voel of myself begin uitskel daaroor nie!
Nee, hy het my geleer om sag te wees met myself hieroor. Ek is immers besig om te leer en te oefen hoe om meer en meer bewus te wees dat die Here altyd en heeltyd in en by my is.
Hy het my ook geleer hoe om sulke tye net rustig terug te keer na my gesprek met die Here en nie dadelik skuldig of gefrustreerd te voel as dit gebeur nie. Om myself heeltyd hieroor te wil straf of skuldig te voel, dien geen opbouende doel nie.
Die waarheid is immers dat die Here self my nie hieroor veroordeel nie. Hy is eerder deur Sy Gees in my besig om my te leer om heeltyd met Hom te gesels en van Hom bewus te wees.
Dit is immers wat in die Bybel oor die werk van die Heilige Gees in die lewens van God se kinders op baie plekke staan.
Ek lees juis nou die dag weer Romeine 8 oor die werk van die Heilige Gees in die lewe van God se kinders.
Is dit nie merkwaardig dat hierdie gedeelte hieroor juis soos volg begin nie:
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”
Hoor jy? Hou dus op om jouself heeltyd te wil straf as jy nie altyd alles perfek doen nie! Wees genadig teenoor jouself! God se genade is vir jou genoeg!
Die Here gaan jou nooit verlaat of alleen laat nie!
Daarom, sê Rom. 8, is dit juis God se Gees se werk in ons om ons te herinner daaraan dat die Grote God ons God en Vader is.
Hoor dit as daar die volgende staan:
“Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.
As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.
Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”
Ontspan dus! Begin maar net elke keer oor!