In die Here se teenwoordigheid (Sesde wenk)

Tyd in die Here se teenwoordigheid, is tyd om Hom lief te hê!

In my eie lewe het my tyd met die Here elke dag, dwarsdeur die dag, tyd geword om die Here se liefde letterlik aan my lyf en in my lyf te voel en te ervaar.

Ja, ek weet dit klink snaaks vir ons wat eerder hierdie dinge baie rasioneel en hier in ons kop ervaar!

Dit het ook my tyd geword om sommer net vir die Here te sê hoe lief ek Hom het.

Ek verstaan so goed hoekom die Bybel in so baie gedeeltes ons verhouding met die Here beskryf in terme van ʼn huwelik en as ʼn intieme liefdesverhouding.

Dink nou maar byvoorbeeld aan een van my geliefde Psalms, naamlik Psalm 18.

“Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. U is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”

En dan hoor ek die psalmdigter daar in vers 7 en verder sing:

“In my nood roep ek na U, o Here, ja, ek roep om hulp na U, my God.

In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my.”

Dan is daar die bekende Psalm 23.

Luister of jy ook dit hoor in die woorde van hierdie psalm. Ek haal sommer uit DIE BOODSKAP-vertaling aan.

“Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie.

Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede.

Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie.

Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien.

3Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe.

Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe.

Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is.

Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my.

Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel.

Soos ’n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor; hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk.

U behandel my soos ’n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed.

U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe; ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.”

Sien jy? Ek het mos vir jou gesê dat ons tyd en gesprekke met die Here ook ons tyd word om die Here se liefde aan ons lyf te voel en nie net as iets rasioneel te beleef nie!

Daarom hoef dit jou nie te verbaas nie dat die belangrikste van al die gebooie en dit wat God van Sy mense verlang, as liefde beskryf word.

So lees ons in Matteus 22:36 tot 40 die volgende:

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Ons liefde vir die Here en ons liefde vir ons naaste gaan ons na Hom dryf, eerder as wat dit net nog 'n werk of 'n dissipline in ons lewe is. Om heeltyd gefokus en bewus te wees van die Here en Sy teenwoordigheid in ons lewe, is immers die hart van ons daaglikse verhouding met Hom, eerder as met enigiets anders. Ons doen dit en wil dit doen, omdat ons Hom liefhet.

So baie keer probeer ons as volgelinge van Jesus om iets aan te leer of om 'n dissipline in ons lewe in te bou wat ons verhouding met die Here kan verbeter. Om dan uiteindelik net weer te ontdek hoe daardie dissipline net weer hierdie “werk” in ons lewens geword het en nie meer iets is wat so normaal soos asemhaal in ons lewe gebeur nie.

God se hart vir ons is dat ons sal leer dat geestelike asemhaal doodgewoon beteken dit wat Jesus hier in Matt. 22 vir ons sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Matt. 22:37)