Die syfer 8 maak my altyd tot in my siel toe opgewonde want dit simboliseer ʼn nuwe begin. Daarom wil ek graag in my gesels met jou oor “in die Here se teenwoordigheid-wees”, oor ʼn paar amper-vanselfsprekende dinge gesels.
Wees oop en gereed vir radikale verandering
Voordat ek ʼn paar verse uit Hebreërs 12 vir jou hier gaan aanhaal in die verband, wil ek jou herinner dat die God in wie se teenwoordigheid ons wil wees, ʼn liefdevolle maar ook heilige God is! Hy is nie jou “pel” nie!
Soos Johannes vir ons daar in Johannes 1 geskryf het, was om in die teenwoordigheid te wees van Jesus as God die Seun wat ʼn mens geword het, soos om in hierdie twee kante van God vas te loop! Naamlik om in Sy genade-liefdevolle kant vas te loop, maar ook om in daardie waarheidskant, wat niks nonsens van jou vat nie en wat sonde en enige vorm van onreg haat, vas te loop!
So, wees maar gereed vir radikale verandering in jou eie lewe!
God die Gees se werk in jou is om jou te verander!
Jy gaan nie dieselfde bly as jy gedurig in die teenwoordigheid van die Allerhoogste, Almagtige, Heilige God van die Bybel wil wees nie!
God die Gees se werk in ons, tot die laaste dag van ons lewe hier op aarde, is om ons te verander en ons te heilig!
Elke deel van ons lewe gaan daardeur geraak word. Van ons intieme verhouding met Hom as die lewende God, maar ook ons verhouding met ons geliefdes en die ander mense om ons, tot ons verhouding met onsself, ons eie liggaam, ons emosionele en fisiese gesondheid, ons verhouding met geld en goed! Ja, alles, alles, alles… gaan hierdeur geraak word en begin verander!
Met dit in gedagte, kom ons lees ʼn gedeelte van Hebreërs 12 en laat toe dat God self deur die werking van Sy Gees, deur Sy Woord in hierdie gedeelte met ons praat!
“Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie…
Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by 'n brandende vuur nie… Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, en 'n gemeente van eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel...
Daarom, terwyl ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op 'n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad 'n verterende vuur.”
Verwag dus dat die Here jou, omdat Hy jou so liefhet, jou gaan leer, bemoedig en vertroos, maar ook jou gaan dissiplineer, oefen soos ʼn goeie afrigter en mentor sou doen.
Ja, daarom gaan Hy jou soos goud en silwer deur vuur louter om so suiwer moontlik te wees en sodat jy gereed en toegerus sal wees vir die toetse wat wag en vir die pad wat jy moet stap binne die groter plan wat Hy vir jou het in hierdie lewe.