Weet net, in die Here se teenwoordigheid kan dit soms baie gevaarlik wees!

 Ja, dit is waar!

Ek het in my eie tyd met die Here beleef dat Hy, omdat Hy ons liefhet, daardie tye wat ons met Hom gesels, of dit nou bid of sommer net gesels is, ook sien as ʼn uitnodiging van jou kant af om in jou lewe te doen wat Hy graag daar wil doen!

Natuurlik gaan dit vir jou, vir jou ego en hardkoppigheid baie gevaarlik wees!

As die Here jou vat, dan verander Hy jou!

Dan sien Hy dit as jou uitnodiging om Hom toe te laat om dit wat Hy daar in Romeine 12:2 te doen, ook in jou te kom doen.

Jy onthou mos wat daar staan, nè?

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Daardie term in die Grieks wat ons met “denke” in Afrikaans vertaal het, is nie net jou gedagtes en hoe jy dink nie! Nee, dit is ʼn oproep om God toe te laat om jou geheel en al, jou hele brein met al sy dele, jou hele senustelsel en alles wat daarin vassit, te verander!

Dié van julle al wat by my kom kuier en my toegelaat het om jou te help om dinge soos traumatiese ervaringe wat met jou gebeur het, te help verwerk, sal weet dat ek jou leer dat baie van daardie seer nie net lê in wat jy kan onthou en kan oorvertel nie. Nee, baie van die trauma en seer sit as’t ware vas in jou lyf.

Ons “denke” of brein is so integraal verbind aan die res van ons liggaam, dat deel van die heling of verandering gebeur wanneer ons die Here kans gee om ook daardie deel van die seer en trauma genees!

Ek het verder ontdek dat hierdie stuk verandering of genesing gebeur waar ons as “twee of drie” gelowiges saam is, want hoe het Jesus self gesê: Dit is waar Hy op ʼn baie spesiale manier self teenwoordig is om te doen wat Hy daar tussen ons en in ons wil doen!

Daar staan mos in Matteus 18:20: “... want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”