Here, in U teenwoordigheid sien ons dinge in perspektief, en sien beter raak wat belangrik is en wat totaal onbelangrik is.
Daar raak ons stil en kom ons tot bedaring.
Daar ontdek ons dat al hierdie dinge wat so ons aandag heeldag steel, eintlik nie so belangrik is soos wat die wêreld om ons wil maak nie.
Ai, en al daardie dinge waaroor ons so ons kan bekommer...!
G’n wonder U leer my: Soek eers My Koninkryk en My wil, en dan sal al die ander dinge in plek val!
Daar aan U voete leer ek om al my bekommernis en vrese neer te sit, nuut te bekyk en nuut te bedink.
Dit is werklik soos U in U Woord daar in Filippense 4 vir my leer:
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
O, U vrede, daardie vrede wat net U kan gee, verander alles! Dit is so allesoorweldigend! Hoe begeer ek dit nie elke dag nie, Here!
Elke oggend wat ek in U teenwoordigheid kom sit en tot bedaring kom deur rustig en lekker asem te haal, gebeur daar dinge met my wat my help om ook hierdie dag nuut te begin!
Daar aan U voete leer ek om dinge neer te sit en weer te kies om met die bril van geloof na dinge te kyk.
Daar ontdek ek nuut U onvoorwaardelike liefde vir my. Wat my toevou en vir my hierdie veilige, sagte plek word waar ek sommer net kan ontspan en nuut kan ontdek dat U genade vir my genoeg is.
Ek is tot alles in staat deur U wat vir my die krag gee!
Daar in U teenwoordigheid word soveel van U Psalms die woorde van my siel.
Soos Psalm 23, en Psalm 91.
Elke oggend kan ek net weer myself herinner aan U beloftewoord aan my en my gesin daar uit 2 Korintiërs 9:8:
“En (my) God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”
Daar aan U voete ontdek ek dat ek bloot U aardse bestuurder is van U eiendom. Want alles wat “ek het”, behoort immers aan U.
Ja, selfs die geld wat inkom in die besigheid, of boerdery, of op welke wyse U voorsien, is genade-goed, bedoel om my en my geliefdes te seën en te voorsien in wat ons nodig het.
Maar ek kan U vertrou ook as daar nie altyd genoeg vir ons is nie. Ja, ek kan U vertrou om nie net vir ons altyd te gee wat ons nodig het nie, maar ook sodat daar genoeg sal wees om vrygewig weg te gee waar U wys!
Het U dan nie my geleer om met die oë van Lukas 16 na dit alles te kyk nie!
“En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
“Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”