In Sy teenwoordigheid kyk ek anders na my finansiële uitdagings

Dit is so vreemd hoe jy in ’n oomblik kan leer om anders te kyk na dinge! Dit is werklik soos om die een oomblik nie mooi te kon sien nie, en die volgende oomblik gee iemand jou ’n nuwe bril en alles is glashelder!

Kom ek vertel jou iets hiervan oor my persoonlike geloofspad rondom finansies, of geld en my “dag se brood” waaroor ek nog altyd dag vir dag gebid het in die Ons Vader-gebed.

Onthou, ek het die Here Jesus as Verlosser en as Here in my lewe in geloof aangeneem op die 10de Oktober 1969, in my Standerd 8 (of deesdae Graad 10) jaar. Van daardie dag af, kan ek met groot dankbaarheid getuig, deur die Here se oorvloedige genade in my lewe, dien en volg ek Jesus voluit!

Twee jaar later roep die Here my met die woorde van Jesaja 6:8: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir Ons gaan?” Waarop ek, soos ’n Jesaja antwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

Uiteindelik het ek die voorreg om vir bykans 15 jaar, saam met my geliefde vrou, en twee dogters, die Here binne die NG Kerk te kon dien as leraar en pastorie-egpaar. En soos alle NG-dominees, het ek elke maand ’n traktement (of salaris) ontvang vir wat ek daar gedoen het.

Tot op daardie dag, 10 Oktober 1993, die dag wat ons as gesin as gelowiges gedoop is. Toe het die Here baie duidelik die volgende twee dinge vir my gesê:

“Jy bedank as NG-dominee, want dit waarvoor Ek jou nou roep en wat jy nou moet doen, kan jy nie as ’n NG-dominee doen nie.”

En: “Jy gaan nooit weer ’n salaris van enigiemand aanvaar vir enigiets wat jy in My Naam en diens doen nie!”

Want, het die Here voortgegaan: Julle het ’n spreekwoord wat sê: “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt!” Bedoelende, as mense jou ’n salaris betaal vir wat jy doen, verwag hulle uiteindelik dat jy sal sê wat hulle wil hê jy moet sê! En sê die Here: Dit gaan nooit weer so wees in jou lewe en bediening nie! Van hierdie oomblik af is Ek jou enigste Here, maar ook jou Totale Versorger! Solank jy in gehoorsaamheid doen wat Ek vir jou sê, sal Ek sorg dat jou rekeninge betaal word!

Daardie oomblik, nou 32 jaar gelede, het alles in my lewe rondom geld en finansies verander!

Laat ek dadelik erken: Dit was ook die mees uitdagende geloofspad wat ek ooit met die Here gestap het in my lewe as Sy kind!

Ek het nog altyd geweet dat Hy die Totale Versorger en Voorsiener was in my en my gesin se lewe! Hy het nog altyd vir ons gesorg en vir ons, soos ons bid, “ons dag se brood” gegee! Of dit nou deur daardie traktement destyds was wat ek maand na maand uit die gemeentekas ontvang het, en of dit deur al die ander entrepeuriese besigheid was wat ek en my vrou in ons vrye tyd mee besig was.

Maar van daardie dag af in 1993 was dit asof ek van vooraf moes leer om met geloofsoë te kyk na my finansies, hoe ek begroot, en wat ons as gesin mag koop of nie “geld gehad het” om nie te koop nie.

En hierdie nuwe geloofspad het ek gedwing om elke oggend vroegoggend die dag te begin waar ek gedissiplineer die dag begin het “in die teenwoordigheid van die Here”!

Daaroor vertel ek volgende keer verder.

Kom ek sluit af met die woorde van 2 Korintiërs 9:8 wat die Here gebruik het om my te lei na ’n nuwe vrede ook hieroor.

Laat asseblief toe dat die Here self met jou deur hierdie vers sê wat jy vandag nodig het om te hoor:

“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. “