Ja, ek ken daardie wonderlike Skrifvers in 2 Timoteus 1:7 waar daar die volgende staan in die Ou Afrikaanse Vertaling:
“Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”
Of soos dit in die BYBEL VIR ALMAL vertaal word:
“God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen. “
Ek moes daar in die teenwoordigheid van die Here die afgelope 32 jaar elke dag leer om hierdie woorde in geloof vas te gryp, saam met ’n hele klomp ander Skrifgedeeltes wat handel oor geld, die Here se totale en getroue versorging van Sy kinders en Sy genade wat vir ons altyd genoeg is.
Ek kan ook vertel van honderde kere wat ek as verantwoordelike man in my huis, as man van my vrou, en as ’n pa vir my kinders, in die nag wakker geword het met ’n hart wat uit vrees en angs in my bors honderd myl ’n uur galop!
Dit is deel van die redes waarom ek nuwe geestelike dissiplines moes aanleer. Soos om elke oggend met dagbreek op te staan voor enigiemand anders in die huis, en om daar in die Here se teenwoordigheid, Sy vrede terug te gryp in geloof om ook daardie dag met geloof en met ’n nuutgevonde vrede te begin.
Daar het ek geleer om ’n vers soos Psalm 46:11 en 12 hardop vir myself elke oggend op te sê:
“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting.”
Ek moet elke oggend leer om hierdie lyf en brein van my tot bedaring te bring, wat alles probeer om my “vlees te beskerm”, en daarom net wil veg of vlug, of “uit te paas” as niks wil werk nie!
Ek moes leer om, soos die Hebreeuse woord letterlik sê, asem te haal (= diafragma-asemhaling noem ons dit), om my uit hierdie oorlewingsmodus (of “survival mode”) te kry van ’n hart wat teen 100 myl ’n uur klop, met hande wat koud en sweterig is, en ’n keel wat uit vrees en angs wil toetrek.
Dit het my gehelp om weer nuut te ontdek (“te weet” in die taal van die Psalm) en te ervaar, selfs in my eie lyf, dat die God wat ek leer ken het in Christus Jesus, by my en in my is, deur die inwoning van God die Heilige Gees.
Jesus self is in en by my.
Ek moes elke dag, aan die begin van elke dag, kies om weer vir daardie dag te glo en te vertrou dat my Here my en my geliefdes gaan versorg soos Hy belowe het.
Daarom gryp ek elke dag vas aan Sy beloftes soos Psalm 23, Psalm 91, Filippense 4, en 2 Kor. 9:8.
“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. “