Maak jy erns met wat die Here vir jou sê?

Ek dink nie daar is een van ons wat nie begeer om God se stem met jou te hoor praat nie.

Kan jy dink hoe dit jou lewe gaan verander as jy oortuig is dat die lewende God wat ek en jy in Jesus Christus leer ken en leer vertrou het, juis nou met jou praat! Dit gaan jou lewe verander.

Wat as dit wat ek vir jou skrywe God is wat nou met jou praat?

Dink ’n bietjie daaroor na.

Hoe gaan dit jou lees van hierdie skrywes verander?

Beskou hierdie volgende opmerkings as my notas oor hoe om erns te maak met wat jy oortuig is werklik ‘n Woord van die Lewende God aan jou is.

Onthou die bedoeling van profesie

Onthou wat die bedoeling is waarom die Here profeties in ons lewens inspreek. 1 Kor. 14:1-3

“Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer. Die een wat in tale spreek, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie; deur die Gees praat hy verborgenhede. Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos.

Die Here is besig om deur hierdie Woord (= profetiese woord)...

  • Jou op te bou – jou te help om die groter prentjie te sien, strategie vir jou te gee
  • Jou te bemoedig – dit gaan jou weer nuwe “woema” gee vir die pad vorentoe
  • En jou te vertroos – en sommer in die proses jou trane afvee, al die wonde wat jy op pad hierheen opgedoen het, te salf en te genees, en jou te help om te vergewe en weer jou vrede terug te kry.

Daarom is dit so belangrik om so ’n profetiese woord/Woord van die Here met groot erns te bejeën, en nie sommer dit te lees of aan te hoor soos wat jy gewoonlik dinge (in jou haas) net half-lees of met ’n halwe oor daarna luister nie.

Dit is mos wat 1 Tess. 5:19 tot 24 hieroor sê.

“Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid. En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus Christus kom. Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.”

 

Waarom sê Jesus vir jou: “Vrede, SHALOM, juis NOU?

Watter aspek of kant van hierdie SHALOM-woord is spesifiek vir jou en dit wat in jou lewe aan die gang is, van toepassing?

Natuurlik is al die kante van VREDE of SHALOM vir jou van belang en deel van God se Woord en genade aan jou. Tog is daar is spesifieke aspekte en betekenis-elemente van die Bybelse begrip, SHALOM, wat VIR NOU bedoel is om jou op te bou, te bemoedig, en te vertroos!

Spandeer ’n bietjie tyd aan die Here se voete om dit vir jouself uit te maak.

 

Waarvoor vertrou jy die Here NOU in jou lewe?

Wat sal jy Jesus vandag antwoord as Hy voor jou kom staan en vra: Wat kan Ek vandag in jou lewe vir jou doen? Waarvoor vertrou jy My vandag?

Watter spesifieke betekenis of kant van die Bybelse begrip SHALOM verwoord wat jou antwoord op hierdie vraag is?

 

Maak tyd om hierdie woord te glo

Omdat die Here se woord juis in hierdie tyd ,“Vrede/SHALOM vir jou!”, is ... is dit ook ’n belofte van die God wat nie kan lieg nie, aan jou JUIS NOU!

Sien in jou geestesoog en begin in jou hart en in jou lyf reeds beleef hoe dit gaan voel en lyk as hierdie kant van SHALOM in jou lewe en rondom jou begin gebeur!

Dit is mos wat GELOOF beteken! Dat jy reeds JUIS NOU al in geloof beleef en sien hoe hierdie kante van SHALOM in en rondom jou begin gebeur!

Maak elke dag van nou af tyd om stil te raak, tot bedaring te kom, en om in geloof te ervaar hoe die Here se belofte- en profetiese woord aan jou, begin gebeur!