Jesus het werklik al jou skuld kom betaal

Ek is besig om vir jou verskillende kant van hierdie vrede of SHALOM te wys wat Jesus gesê het my en joune is.

In Lukas 4 haal Jesus Jesaja 61 aan om te vertel wat Hy vir ons hier op aarde kom doen het.

“Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

Hierdie “genadejaar van die Here” waarvan Jesaja profeteer en wat Jesus gebruik om vir mense aan te dui waarom Hy gekom het, is die Jubilee-jaar waarvan ons daar in Levitikus 25 lees. Gaan lees ʼn bietjie self wat dit alles behels.

Het jy behoefte aan so ʼn Jubilee-gebeurtenis in jou lewe?

Het jy nodig om te hoor dat jy nie langer ʼn slaaf is of hoef te wees nie? Jy hoef ook nie toe te laat dat jy soos ʼn slaaf behandel word nie?

Het jy nodig om te ontdek dat Jesus gekom het om al jou skuld ten volle te betaal?

Ja, miskien moet jy ontdek dat Jesus deur Sy Woord en Sy Gees, ook vir jou ʼn nuwe pad wil leer rondom geld en goed.

Ja, dat Hy jou wil leer om, soos Romeine 13 sê, “niemand iets verskuldig te wees nie behalwe om hulle lief te hê!”

Miskien moet Hy jou ook leer wat dit beteken om in ʼn hemelse bankrekening te begin belê! Ja, om in die koms van die Koninkryk met jou geld en goed te belê, en om nie te val vir kwasi versekering en al die praatjies wat banke en ander finansiële stelsels oor allerlei soort beleggings elke dag vir jou vertel nie!

Het Hy dan nie vir jou as Sy kind belowe dat as jy Sy Koninkryk soek en dit die belangrikste van alles in jou lewe ag, daar van alles wat jy en jou geliefdes nodig het, oorgenoeg sal wees nie!

Of kort jy dalk “vrede” in die sin van bevryding, soos daardie besetene van Gerasa, in Markus 5?

Besef jy dat in die lig van wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het, jy met daardie sonde of sondige gewoontes kan ophou as jy dit werklik bely soos 1 Joh. 1:9 sê?

Om dan uit God se eie mond te kan hoor: Jy is vergewe en van alle ongeregtigheid gereinig! In Jesus is jy werklik vry!