God se vrede, Sy “shalom”, gebeur in jou lewe wanneer…

God se vrede, Sy “shalom”, gebeur in jou lewe wanneer… ons kies om Hom te glo en te gehoorsaam.

Glo jy regtig wat die Here vir jou sê en belowe in Sy Woord?

As ek en jy werklik glo dat die God wat ons leer ken het in Jesus Christus, werklik praat met ons deur Sy Woord, die Bybel, gaan ons anders reageer, en sal ons anders moet reageer!

Kom ons neem nou maar dit wat die Here vir ons al vir meer as 14 keer die afgelope tyd gesê het en belowe het.

Ja, Hy het op sovele kere en soveel maniere vir ons die volgende gesê en belowe: Vrede vir jou! My SHALOM is ook daar vir jou, My kind, in al sy verskillende vorms en skakerings!

Ek het gekies om hierdie woord vir my en my geliefdes vas te gryp in geloof.

Kom ek gebruik ʼn paar Skrifgedeeltes wat ek, daarom, elke dag, vasgryp vir my en my mense, as voorbeelde.

Dink aan die Here se woord aan elkeen van ons daar in 2 Kor. 12:9.

“Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. “

Dink net in watter opsig kan ʼn keuse om hierdie woord te glo jou hele lewe verander!

Dink net watter vrede sal dit in jou lewe veroorsaak!

ʼn Volgende vers wat ek vasgryp omdat God “shalom” aan ons belowe, is 2 Kor. 9:8, waarin die Here die volgende aan jou belowe:

“En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.”

Hoe sal hierdie vers nie jou lewe verander nie en vrede bring as jy kies om dit werklik as ʼn woord van die lewende Here, wat nie kan lieg nie, vasgryp in geloof en dit gehoorsaam begin uitleef!

Een van my ander verse wat ek elke dag in geloof vasgryp en gehoorsaam is Fil. 4:6 en 7.

“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”

Hoor jy? ʼn Vrede wat jy nie kan verduidelik nie, sal letterlik jou begin beskerm, daar waar ek en jy soms so broos en kwesbaar is!

Een van my gunstelingpsalms is Psalm 23, wat in die waarheid niks anders as ʼn merkwaardige beskrywing van hierdie SHALOM of vrede wat in ons gebeur in elke deel van ons lewe as ons God se Woord in geloof begin vasgryp en gehoorsaam. 

Gaan lees dit asseblief weer ʼn slag!

En memoriseer dit sommer om dit elke oggend vroeg hardop vir jouself te kan opsê sodat elke deel van jou dit kan hoor.

Kies dan om dit ook vir jou en jou geliefdes vir daardie dag te glo! Laat dit sommer die geestelike energie en brandstof vir daardie dag en alles wat jy doen in die dag, wees!