Die Here is so getrou op sovele maniere!
Een van die merkwaardige maniere waarop die Here soms met ons praat is deur vir ons die gordyne na die toekoms toe ’n bietjie oop te trek sodat ons so op ’n skrefie iets daarvan vooruit kan sien.
So het die Here in 2010 in ʼn profetiese woord vir my die volgende oor “shalom” in 2026 en volgende jare gewys:
Jesus het tydens Sy bediening op aarde soveel keer stories van werklike gebeure en dinge gebruik het om iets profeties oor Sy Vader en Sy wil vir ons te sê. So wil ek vandag so ʼn storie vertel om te vertel waarmee die Here besig is in Sy Ekklesia en oor die wêreld.
Wolfgang Simson vertel in sy boek, THE STARFISH MANIFESTO, van die volgende werklike gebeure. Hy was besig om saam met wêreldleiers te gesels oor wat in die Liggaam van Jesus aan die gebeur is. Hoe derduisende mense opnuut of vir die eerste keer, “ja” vir Jesus Christus sê, maar “nee” vir baie bestaande dele van die sigbare kerk rondom hulle sê.
Terwyl hy besig was om daaroor te praat, gee iemand hom ʼn nota dat die Here sê hy moet vertel van wat eendag op ‘n die strand van die Suid-Filippynse eiland, Mindanao, gebeur het. Hy begin toe te vertel van hierdie klein seuntjie wat besig was om met ʼn muskietnet in die water te speel.
Toe gebeur daar onverwags iets byna bonatuurlik. Derduisende klein vissies het skielik in die muskietnet verstrengel geraak; dieselfde soort wat die Filippyne op daardie eiland gewoonlik gebraai en saam met knoffelrys vir aandete geëet het.
Mense het nader gestorm en begin om die vissies met emmers op te skep. Later was elke beskikbare houer en krat vol vis! Hulle begin toe sommer van die vis in ʼn vissersboot van bykans agt meter te gooi wat daar op die strand gelê het. Dié was later ook oorlopens toe vol! Die inwoners van die dorp het jubelend die strate op en af gehardloop soos wat hulle emmers van die vissies na hulle huis toe geneem het.
Nadat Wolfgang sy verhaal vertel het, staan ʼn vrou op en vertel in trane van ʼn droom wat sy herhaaldelik die afgelope tyd gehad het. Sy vertel hoe sy in die droom besig was om muskietnette aan vroue in Tanzanië uit te deel. In die droom hoor sy toe hoe God se Gees aan haar sê: ‘n Man uit Duitsland (Wolfgang Simson is ‘n Duitser) sal vir jou ‘n storie vertel wat jou gaan help om die droom te verstaan.
Skielik het elkeen in die vergadering beleef hoe God se Gees besig was om hulle te wys wat oral oor die wêreld aan die gebeur is. Hoe God besig is met ‘n geestelike ontwaking en bekerings wat derduisende se lewens omkeer.
Wat aangrypend is, is dat dit die meeste van die tyd half onverwags gebeur, op die vreemdste maniere en plekke, en dat Hy meestal mense gebruik wat ‘n mens eintlik nie sou verwag nie.
Die Here herinner hulle toe aan Jesus se woord daar in Luk. 10:2: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”
Iemand staan toe in die vergadering op en sê dat die Here hom herinner aan ‘n fabel van die broers Grimm wat vertel het van ‘n draak wat die inwoners van ‘n bepaalde land se lewens hel gemaak het. Die koning van die land laat weet toe dat hy die helfde van sy koninkryk sal gee vir die man of vrou wat van hierdie draak ontslae sal raak.
Die persoon wat die verhaal vertel, draai toe om na ’n man agter hom in die gehoor en sê vir hom: Jy het al sovele kere vir die Here belowe dat jy bereid is om die helfde van jou besigheid se winste te gee as dit maar net Sy koninkryk so laat kom. Dit is nou tyd dat jy en andere om jou moet begin doen wat julle belowe het. Laat God vir julle wys wie die mense is vir wie julle finansieel moet gee sodat hulle muskietnette van allerlei vorme kan gaan uitdeel wat God wil gebruik om visse mee te vang.
Die man aan wie die profetiese woord gegee is, begin toe huil en vertel dat hy ‘n sakeman en voorsitter van sy land se Christen-besigheidsaksie is.
Kan ek ‘n paar slotopmerkings maak: Ek weet nie of jy weet nie, maar tans word dit bereken dat bykans 75 persent van alle nuwe bekerings wêreldwyd, buite die normale, gestruktureerde kerk en gemeentelike byeenkomste en programme plaasvind. Dit gebeur tans op die “vreemste” plekke en tussen mense waar ons jare gelede dit nooit sou verwag nie.
God se Gees is besig om deur wat ek die “ekklesia in eenvoud” wil noem, te werk. Dit is gewoon waar gelowiges in alle nederigheid hulle alledaagse werk en dinge doen omdat hulle beleef het dit is wat God hulle aangesê het om te doen. In die proses beleef hulle dan hoe die Here dit gebruik om lewens rondom hulle aan te raak en om te keer.
Ek wil jou uitdaag: As jy werklik glo en soek na hoe God se koninkryk en wil ook daar waar jy is kan kom, doen dan maar net wat God jou vra om te doen!
Miskien is jy ook een van diegene wat, as deel hiervan, moet kies om ‘n deel van alles wat jy het, en alles wat God vir julle deur die besigheid of deur die boerdery gee, te gee sodat Sy koninkryk kan kom.
Onthou 2 Kor. 9:6 tot 11: “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.
En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: ‘Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.’
God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer. Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.”