“Sodat God se mense verseker kan weet dat wat hulle glo die volle waarheid is…”
Vir my is een van die belangrikste opdragte wat ek het as een van God se span toerusters in Sy Liggaam is om Jesus se volgelinge toe te rus soos hulle kan weet dat wat hulle glo werklik die waarheid is.
Daar buite is ons in ʼn oorlog. Dit is mos wat die Here Jesus ons oor gewaarsku het, en wat God se Gees deur Skrifgedeeltes soos Efesiërs 6:12 aan ons sê as daar staan:
“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”
In daardie selfde gedeelte in Efesiërs 6, herinner die Here ons ook aan wat die wapenrusting wat ons moet aanhê (= wat in plek moet wees) om te verseker dat ons lewendig anderkant gaan uitkom in hierdie oorlog.
Dit is waarom WAARHEID altyd ons toets en soeke moet wees, wat soos ʼn gordel om ons lyf, sal verseker dat alles mooi bymekaar en in plek gaan wees.
Dit is ook waarom die enigste wapen wat effektief gaan wees en “ons swaard” in hierdie geveg gaan wees, God se Woord is.
Hoef ek jou daaraan te herinner dat…
· Die Bybel in elke sin van die woord “WOORD VAN GOD” is, waarvan jy verseker kan weet dat die Enigste, ware God, daarin woord vir woord met ons praat!
· Soos Hebreërs 1 tereg vir ons sê: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.” Met ander woorde, God praat natuurlik met ons deur die Skepping, deur gebeure om ons, maar bowenal deur die Ou Testamentiese boeke, deur wat in die Wet, die Profete, en die ander Ou Testamentiese boeke geskryf is. Maar, bo alles, praat Hy met ons deur Jesus, God die Seun, die Messias, wat ʼn mens geword en tussen ons kom woon en lewe het vir 33 jaar. God praat dus veral met ons deur Jesus, God die Seun, wat deur God die Gees, in Sy lewe, woorde, kruisiging en opstanding, maar ook deur alles wat oor Hom in die res van die boeke van die Nuwe Testament staan.
Kom sit hier by my en dan wys ek vir jou en jou kinders hoekom ons so seker kan wees van wat ons glo as volgelinge van Jesus!
Ek het vir jou ʼn kort video gemaak oor hoe ek met ʼn A4-bladsy vir jou en jou kinders die 4 belangrikste redes wys waarom ek en jy so seker kan wees van wat ons oor Jesus glo.
Omdat ek totaal oortuig is dat die Bybel, soos ek en jy dit ken, met sy 66 boeke, die volledige en geïnspireerde Woord van God is, en dus die fondament van die waarheid is wat ons glo, gaan ek kortliks met jou gesels oor hoekom ek so seker daarvan is.
Dan gaan ek vir jou 4 redes gee waarom ek 57 jaar gelede, op 10 Oktober 1969, reeds gekies het om te glo wat ek glo, en waarom ek steeds vandag so seker is van wat ek glo dat ek vandag bereid is om my lewe daarvoor te gee as dit nodig is!
Het jy gehoor? Ek is so seker van wat ek gekies het om te glo dat ek bereid is OM DAARVOOR TE STERF!
Is jy so seker van wat jy glo dat jy daarvoor vandag sal sterf?
Kom ek help jou om net weer seker te maak van wat glo jy werklik.