Waarom glo ek die Bybel geïnspireerde Woord van God is

ʼn Intelligente mens, wat soek na die waarheid, kan nie anders as om erns te maak met ʼn boek wat die unieke, historiese kwaliteite van die Bybel het nie.

Hoeveel maal het argeologie, die wetenskap en historiese ondersoeke nie aangetoon nie dat wat in die Bybel staan, selfs tot almal se verbasing, presies so is soos dit soveel eeue gelede reeds in die Bybel neergeskryf is.

Tog is daar steeds mense wat verbaas vra: Jy lees steeds nog die Bybel!

Selfs op skool en universiteit, sonder dat meeste van ons dit agterkom, word dinge gesê en geleer wat direk in stryd is met wat in die Bybel staan. Dink maar net oor hoe maklik die teorie van ewolusie gebruik word as die oerbegin van alles om aan ons kinders op skool te verduidelik!

Daarom het dit tyd geword om weer vir mekaar te sê waarom ons glo dat die Bybel Woord van God is en waarom ons glo dat dit betroubaar is.

Kom ek wys jou so ʼn paar van die unieke kenmerke oor die Bybel:

·        Weet jy dat die 66 boeke van die Bybel wat ons ken, oor ʼn tydperk van sowat ʼn 1400 jaar, deur meer as 40 verskillende skrywers geskryf is? Hulle was van allerlei beroepe en van hulle was selfs konings soos ʼn Dawid en ʼn Salomo; ander was wyse gurus, digters en musici, ja, selfs ʼn dokter en historikus, vissermanne, en selfs ʼn geleerde Skrifkenner en Skrifuitlêer, genaamd Paulus. Hierdie skrywers het hierdie 66 boeke op 3 kontinente geskryf: ʼn Gedeelte in die Midde-Ooste en Afrika, ʼn gedeelte in Klein-Asië, en dan ook ʼn gedeelte in Europa.

·        Die grootste gedeelte daarvan is in 2 tale geskryf: Die Ou Testament in Hebreeus (met ʼn baie klein gedeelte in Aramees), en die Nuwe Testament in Koine-Grieks, die taal van jan alleman van destyds.

·        Ons kry in hierdie Bybel allerlei soorte literatuur soos geskiedenis, wetgewing van allerlei aard, siviel, krimineel, eties en godsdienstig, maar dan ook digkuns, psalms en ander liedere, profesie, persoonlike memoires, en selfs apokaliptiek.

·        Tog is daar, ten spyte van alles wat hierbo gesê is, hierdie goue draad wat dwarsdeur die hele Bybel merkbaar is wat wetenskaplikes totaal verstom en sprakeloos laat.

·        As iemand jou sou vra: Waaroor gaan die Bybel in hoofsaak, kan jy hulle soos volg antwoord: In die Bybel hoor ons God praat en hoe Hy Homself en Sy hart en wil aan ons openbaar. Miljoene mense kan getuig hoe hierdie God hulle êrens in hulle lewe ontmoet het, met hulle praat, en Sy gesig, Sy hart en selfs Sy plan vir hulle lewe wys.

·        In die 39 boeke van die Ou Testament ontdek ons hierdie God as Skepper, maar ook as die God wat vir Homself ʼn volk skep wat uiteindelik die baarmoeder sou wees waaruit die beloofde Messias gebore is.

·        In die 27 boeke van die Nuwe Testament lees ons in 4 evangelies die goeie nuus oor Jesus, die Christus of Messias, oor Sy geboorte, Sy lewe, wat Hy gesê en gedoen het, Sy kruisdood, begrafnis, maar ook oor Sy opstanding uit die dood. Dan lees ons ook hoe Hy Homself vir 40 dae aan honderde mense lewend vertoon het, opgevaar het hemel toe, om 10 dae later aan Sy mense, soos Hy belowe het, God die Heilige Gees te skenk om vir ewig by en in hulle te woon. In die res van die Nuwe Testamentiese boeke lees ons hoe dit derduisende mense se lewens radikaal verander het, sodat hulle selfs bereid was om vir hulle geloof in Hom te sterf as martelaars.

·        Kan jy glo dat 11 van die dissipels van Jesus uiteindelik as martelaars gesterf het, omdat hulle so seker was oor Hom as Koning, Here en Verlosser in hulle lewe!

·        Ten spyte van die feit dat die gelowige volgelinge van Jesus oor al die eeue vervolg, gemartel en doodgemaak is, het dit nie verhoed nie dat geloof in hierdie Jesus en in hierdie God soos ʼn veldbrand oor die wêreld versprei het en steeds die grootste godsdienstige beweging oor die wêreld is.

·        Ja, ten spyte van soveel wat al probeer het, kon niemand die druk en verspreiding van die Bybel ooit keer nie en is en bly die Bybel vandag nog ʼn topverkoper wêreldwyd.