Oor die Opstanding van Jesus is daar geen twyfel nie

Die vorige keer het ons gesels oor die wetenskaplike waarskynlikheid dat 322 profesie wat in die 39 boeke van die Ou Testament, oor ʼn tydperk van meer as ʼn 1200 jaar, deur meer as 30 verskillende skrywers geprofeteer is, een uit 10 tot die mag 84 is. Dit is 1 gevolg deur 84 nulle!

Tog is ons geloof as volgelinge van Jesus, hoe belangrik dit ook al is, nie net gebaseer op hierdie vervulde profesieë nie. Dit is nie eers gebaseer op alles wat Jesus self geleer het, hoe Hy gelewe het, of wat Hy alles gedoen het, of selfs dat Hy gekruisig is nie.

Nee, dit belangrikste van alle belangrike dinge waarom ons in Jesus glo, is omdat hierdie Jesus opgestaan het uit die dood!

Daarom sê 1 Kor. 15, dat alles wat ons as volgelinge van Jesus glo, staan of val of Hy werklik opgestaan het uit die dood, en of Hy steeds lewe!

Hoor hoe staan dit daar in vers 1 tot 7:

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.”

Daarom sê vers 14: 'En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.”

Daarom was die grootste deel van die aanval teen wat ons glo as volgelinge van Jesus, en teen die Bybel, gerig daarop om die opstanding van Jesus as ’n leuen te probeer bewys.

So was daar in die 18de eeu 'n man met die naam, Gilbert West, wat nie daarvan gehou het dat baie van sy vriende Christene geword het nie. Hy het begin om 'n boek te skryf wat die opstanding weerlê, want as jy die opstanding kan weerlê, kan jy die hart van die Christelike boodskap weerlê.

Halfpad deur die skryf van die boek, het hy egter ’n Lewende Jesus self teëgekom. In plaas daarvan om die opstanding te weerlê, het hy uiteindelik 'n boek geskryf wat dit verdedig.

In die 19de eeu was daar 'n bekende ateïs in Amerika met die naam Ingersoll. Hy was ontsteld dat die Christendom so vinnig wêreldwyd gegroei het. Een van sy vriende was die bekende generaal, generaal Leo Wallace. Ingersoll sê toe vir hom: "Leo, jy moet my help. Hoekom skryf jy nie 'n boek wat die opstanding weerlê nie?"

So het Leo Wallace sy boek begin skryf. Sy vrou was 'n Christen, en sy het vir hom gebid terwyl hy gewerk het. So ontmoet Leo Wallace toe ook ʼn lewende Jesus tydens die skrywe van sy boek oor die opstanding van Jesus. Vandag ken ek en jy sy boek want dit het die teks van die bekende film met die titel, “Ben-Hur” geword.

In die 20ste eeu het 'n prokureur en joernalis met die naam, Frank Morrison, besluit dat hy die Christendom sou vernietig. Hy het geglo die enigste manier om dit te doen, was om die opstanding te weerlê. As joernalis het hy geweet hoe om navorsing te doen, en as prokureur het hy geweet hoe om bewyse te ondersoek. Halfpad deur die skryf van sy boek, het hy soveel bewyse vir die opstanding gevind en so self ʼn lewende Jesus ontmoet! Uiteindelik sou sy boek verskyn met die titel: “Wie het die klip weggerol?”

So, as jy haastig is om ’n Lewende, Opgestane Jesus te ontmoet, probeer om 'n boek te skryf om die opstanding te weerlê!

Ek wil hierdie gedeelte afsluit met ʼn beeld.

Stel vir jou die lewe voor as hierdie straat voor ons, met voor in die pad, hierdie vurk in die pad. Jy weet nie of jy links of regs moet loop nie. Voor jou lê daar egter twee mans in middel van die vurk in die pad. Die een is dood, maar die ander een is lewend. Watter een sou jy vir aanwysings oor die lewe vorentoe vra?

Die rede waarom ek 'n Christen is, is omdat Jesus Christus lewend is. Sy opstanding bevestig dus alles wat Hy gesê en alles wat Hy gedoen het.

Nadat Jesus uit die dood opgestaan ​​het, het Hy 40 dae saam met Sy dissipels daar in Jerusalem en omgewing deurgebring voordat Hy na die hemel opgevaar het.

Gedurende daardie 40 dae het Hy niks nuuts bygevoeg of weggeneem van wat Hy gedurende die vorige drie jaar vir hulle geleer het nie.

Daarom kan ons vertrou wat Jesus sê oor die verlede, die hede en die toekoms.

Ek is ’n volgeling van Jesus en ’n Christen, omdat ek glo daar is onteenseglike logiese en historiese bewyse dat alles wat ons glo waar is, maar veral omdat Jesus werklik opgestaan het en lewe as die Koning van alle konings en Here van alle here.