Ek het ontdek hoe nodig ek die Here se genade en vergifnis het

Nog ’n rede waarom ek ’n volgeling van Jesus en ’n Christen is, is omdat ek in my lewe ontdek het hoe nodig ek die Here se genade en vergifnis het.

’n Ma het eenkeer haar man gevra om na hul dogter, Annie, te kyk terwyl sy dorp toe gaan. Hy het ingestem, maar gewonder hoe om haar besig te hou. Hy het deur 'n tydskrif geblaai en 'n kaart van die wêreld daarin gekry wat hy toe in klein blokkies gesny en op die vloer rondgestrooi het. Hy roep toe vir Annie en sê vir haar: "Annie, sit die wêreld asseblief weer vir ons aanmekaar, en wanneer jy klaar is, kom roep my dan."

Hy het gedink dit sou haar lank besig hou, maar 'n paar minute later roep sy hom: "Pappa, ek is klaar." Hy kon dit nie glo nie. Toe hy dit egter nagaan, was elke stukkie op die regte plek.

"Hoe het jy dit gedoen?" vra hy toe.

Sy sê toe: "Toe Pappa die kaart gesny het, het ek 'n prentjie van 'n man en 'n vrou aan die anderkant gesien. Ek het gedink as ek die man en die vrou weer aanmekaar kon sit, kon ek die wêreld weer aanmekaar sit."

Die groot probleem in die wêreld en in mense soos ons se lewens, is dit wat in ons eie hart en in die hart van sovele mense rondom ons aangaan, daar waar ons nie kan sien nie.

Laat ek dit op 'n ander manier verduidelik. Stel jou voor jy sterf en word wakker in hierdie reuse saal. 'n Engel kom binne en sê: "Welkom by die teater van God se oordeel. Sit terug, ontspan en kyk na die vertoning wat volg!"

Voor jou, op ʼn reuse skerm, sien jy dan jou hele lewe voor jou afspeel: alles wat jy ooit gedoen, gesê of gedink het. Jy sien daar al die sondes wat jy gedoen het, maar ook alles wat jy nagelaat het; alles wat jy moes gedoen het, maar nie gedoen het nie, en versuim het om te doen.

Wanneer die film dan eindig, kom die engel terug en sê: “Ontspan. Daar is nou ook ’n tweede vertoning. Hierdie keer gaan almal wat êrens in die film verskyn het, dit saam met jou sit en kyk.”

Ek weet nie hoe jy daaroor sou voel nie! Tog weet en glo ek dat as daar êrens ʼn oordeelsdag vir ons wag, ek God se genade en veral Sy vergifnis baie nodig het!

Ek het niemand nodig nie om my te oortuig dat dit wat in my lewe gebeur het, alles wat ek gedink, gesê en gedoen het, en alles wat ek versuim het om te doen en te sê, beslis ʼn heilige God se woede en straf verdien!

Die Bybel sê nie verniet nie dat al hierdie dinge, wat die Bybel “sonde” noem, skeiding tussen my en die heilige God veroorsaak. Dit is soos hierdie reuse oortrokke rekening wat stadig maar seker in my bankrekening voor God opbou. Die ergste van alles is dat niemand ons hiermee kan help nie, want almal van ons is totaal oortrokke, en niemand kan hierdie skuld afbetaal nie.

Ja, ek weet daar is dalk dié wat wil verskonings soek. Wat sê: “Dit was nie my skuld nie! Dit was my ouers… my onderwysers… die samelewing… se skuld!”

Ander gaan baie hiervan probeer ontken. God weet egter wat die volle waarheid is. Hy weet dat ek en jy ewe skuldig is, en dat daar net een straf hiervoor is wat regverdig is. Die Woord is baie duidelik hieroor: Almal van ons is skuldig en verdien uiteindelik net een verdiende straf, naamlik die dood! Ja, nie net dat ons hier op aarde uiteindelik hel gaan beleef of gaan sterf nie, maar dat ons almal ook die ewige dood, die hel en sy volle gloed van helse, ewige straf verdien.

Dit is hier waar die Goeie Nuus, die Evangelieboodskap van vergifnis, verlossing, en genade opklink! Wat vertel van Jesus, die Messias, wat ons rekening vir en namens ons kom betaal het! Dit is wat Jesus vir ons kom doen het!

Dit is waarom Hy, God die Seun, mens geword het. Hoe sê Johannes 3, vers 16: “So lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy enigste Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Ja, hiervoor het Jesus, die Christus, met Sy bloed, Sy lewe, kom betaal, om so die skuld wat op ons gerus het, ten volle te kom betaal.

Ja, ek het gekies om dit te glo! Dat Jesus dit ook vir my gedoen het.

Daarom het ek Hom as my Verlosser en Here aangeneem, om, soos Johannes 1:12 sê, daarom ook met sekerheid te weet: Ek is nou kind van hierdie God en sal nooit verlore gaan nie! Omdat ek glo dat Jesus dit vir my gedoen het, glo ek dat God, as ʼn Heilige God, ook my kan vergewe en my sonde kan vryspreek, want Jesus het reeds die volle straf daarvoor gedra.

Sê my, glo jy dit ook?

Glo jy dit werklik?

Gryp dan net weer vandag daardie woord en belofte daar in Johannes 1:12 vir jou lewe vas, want die God wat dit sê en belowe, kan nie lieg nie! Wat Hy sê, staan vas en is waar!