Ons is besig om te gesels oor die begrip “ewige lewe” in die Bybel. Kom ons dink ʼn bietjie oor die woord “lewe” soos dit in hierdie begrip gebruik word.
Hier dink ek dadelik aan wat die Here hieroor vir ons in Sy Woord sê. Soos:
· Onthou jy wat Vader vir Adam en Eva oor gewaarsku het as hulle van die boom in die middel van die tuin, teen Sy opdrag aan hulle, sou eet? In Genesis 2, van vers 14 af, staan daar die volgende: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
· Met ander woorde, toe die mens aan hierdie opdrag ongehoorsaam was, het hulle “gesterf”! Wat, eerstens, beteken dat die mens as gees-mens “gesterf het”. Dit beteken vir my dat die mens natuurlikergewys, as God dit nie in Sy genade moontlik maak nie, nie meer God se stem duidelik kon hoor nie; dat die mens nie meer God en Sy handewerk duidelik kon sien nie; dat die mens se gewete nie meer sensitief was vir God, Sy wil en Sy hart nie. En natuurlik, hierdie sonde het ʼn tragiese “doodsheid” veroorsaak wat ook die res van die mens, wat ons as “siel” gewoonlik beskryf, asook die mens se liggaam radikaal sou verander en vervorm.
· As ons dink aan die mens self, dink net hoe die “siel” van die mens deur sonde en hierdie doodsheid verwring is en dood gegaan het! Byvoorbeeld, hoe dit die mens se brein, senustelsel, emosies, en wil “siek” gemaak het, en stadig maar seker laat “doodgaan” het! Om nie eers van die mens se liggaam te praat nie!
· Dit sou baie verder as die mens uitkring, om ook die hele skepping van God te verwring en stadig maar seker “dood maak”!
· Die “dood” en “dood gaan” van alles in die skepping was skielik hierdie verskriklike werklikheid! In Romeine 8 lees ons selfs van hoe die hele skepping “sug” as gevolg hiervan!
· Het jy mooi geluister na die woorde van die Vader in die gelykenis van die “Verlore Seun”? Daar in Luk. 15:32 sê die pa na die verlore seun se bekering en terugkoms: “Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”
· Daarom lees ons in Rom. 5:21, as God se Gees Paulus “inspireer” om die Evangelie te woord, dan skryf hy dit so: Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.” Het jy mooi gelees wat hier staan? Daar waar die dood geheers het as gevolg van sonde, verander dit radikaal en keer lewe as ewige lewe terug wanneer iemand deur God se genade verander word en Jesus in geloof aangeneem het!
· Daarom word daar aan gelowige volgelinge wat Jesus aangeneem het as Verlosser, die volgende daar in Rom. 6:13 gesê: “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”
· Efes. 2:1 en verder, sê daarom tereg die volgende van ons as mens voor ons bekering: “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.
Volgende keer gesels ons dan oor hoe doodsheid verander in “lewe” in die lewe van ’n gelowige volgeling van Jesus.