Een ding het ek verseker ontdek en dit is dat “ewige lewe” nooit net kan beteken dat ek en jy as gelowige volgelinge van Jesus eendag, na ons dood, “hemel toe sal gaan nie”!
Het jy al ooit probeer om te probeer om ʼn definisie vir die woord “hemel” te kry wat werklik dit mooi en duidelik omskryf?
Vir my beteken “hemel” die volgende: Om reeds hier op aarde iets daarvan te ervaar, maar uiteindelik finaal, volkome, in die lewe hierna, in die direkte teenwoordigheid van God as Vader, Seun, en Gees te wees!
Daar is min dinge wat vir my soveel vrede gee as om te weet dat as ek vandag te sterwe kom, ek onmiddellik in die hemel, in God se teenwoordigheid sal wees!
Hoe weet ek dit, mag jy dalk vra?
Dan wil ek jou herinner aan wat Jesus daar aan die kruis vir daardie gelowige moordenaar gesê: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees!”
Tog weet en glo ek dat om die “ewige lewe te hê”, baie meer behels as net hierdie sekerheid oor my eindbestemming na die dood te hê.
Verstaan my mooi! Ek maak nie hiermee asof hierdie oorstap na die dood, in wat die Bybel “hemel” noem, of “paradys” noem, nie onbeskryflik wonderlik gaan wees nie!
Wat egter vir my dag vir dag opgewonde maak, is om te weet dat ek reeds nou al, in my lewe elke dag op hierdie aarde, ook in die direkte teenwoordigheid van God kan wees! Die God wat ek as Vader, Seun, en Gees in en deur Jesus ontdek het en wie ek ook met my lewe hier op aarde leer vertrou en dien het!
Maar kom ons gesels oor “die hemel” en wat ons daaroor lees in die Bybel.
Die prentjies daarvan wat ons in die profetiese boek, Openbaring, kry, laat my mond oophang en al klaar water!
Kan jy jou indink hoe dit gaan wees om deel te wees van die miljoene voor Sy troon wat die Here aanbid en sing: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige! Hy wat was en wat is en wat kom!”
Of om saam neer te kniel voor Hom wat op die troon sit, en Hom te aanbid wat tot in alle ewigheid lewe!
Ja, om saam te kan sê: “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep!”
Kan jy vir jou ʼn plek en ʼn realiteit indink waar daar geen pyn, trane, dood, lyding, siekte, misdaad, of enige ander nagevolge van sonde is nie!
Ek moet erken, ek kan met my “plat koppie” op geen manier werklik betekenisvol hieroor dink nie!
Met dit alles gesê, weet ek ook verseker, dat dit nie al is wat Jesus daar in Johannes 3:16 bedoel het met “ewige lewe” nie!
Wil jy nie solank begin om ʼn bietjie deur die Bybel te blaai en te kyk wat ontdek jyself hieroor in die Here se Woord nie?
Volgende keer gesels ons verder hieroor.