“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 5)

“Ek gaan om vir julle plek voor te berei!”

Onthou jy daardie woorde van Jesus daar in Johannes 14?

Kom ek herinner jou aan wat daar staan en die presiese konteks waarin Jesus daaroor gepraat het.

Volgens die Johannes-Evangelie was dit deel van Jesus se woord by een van die laaste – of selfs die laaste keer – wat Hy met Sy dissipels die Joodse Pasga-ete saam geëet het.

Daarom moet jy, om hierdie woorde werklik te verstaan, al by Johannes 13 begin lees! Daar waar Jesus Sy dissipels se voete een vir een gewas het – ook selfs Sy verraaier se voete! En waar Hy vir hulle vertel en gewys het wat dit beteken om ʼn volgeling te wees in hierdie stukkende wêreld vol stukkende mense!

Dan vertel Hy hulle dat Hy gekruisig gaan word, gaan sterf, begrawe word, maar ook verheerlik word deur die Vader wanneer Hy Hom gaan opwek en laat opstaan uit die dood. Sodat hulle Hom, Jesus, werklik sal herken vir wie Hy werklik is en moet wees, die Nuwe Koning van hemel en aarde. Ja, God die Seun, self God, wat mens geword het, om Sy lewe as die Pasga-Lam te gee sodat ons kan lewe.

Dan sê Hy, as Here en Koning, self God, vir hulle: “Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Dit is ook dan wat Hy vir hulle vertel dat die tyd verby is wat Hy self in lewende lywe, as gewoon mens, tussen en by hulle, 24/7, gaan wees. Hierdie tyd, hierdie seisoen, waarvan die Ou Testamentiese profesieë geprofeteer het, is verby!

Nou lê ʼn nuwe seisoen voor!

Daarom, ter voorbereiding hiervan, gaan Hy as God die Seun terug na Sy Vader om te doen wat nodig is vir hierdie nuwe seisoen wat nou voorlê.

Dit beskryf Jesus so:

“Ek gaan om vir julle plek gereed te maak… En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Waar is daardie “plek” waarvan Jesus praat?

“'In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.”

Met ander woorde: Hy gaan om vir ons “ʼn plek” voorberei waar ons die Vader se teenwoordigheid by en in ons gaan beleef! Net soos wat Jesus dit Sy hele lewe die 33 jaar hier op hierdie stukkende aarde belewe en ervaar het, gaan ons dit ook beleef!

Hoe gaan dit gebeur en van wanneer af gaan dit gebeur?

Jesus antwoord self hierdie vraag: Wanneer Hy gedoen het wat gedoen moet word om hierdie seisoen te laat aanbreek: Wanneer Hy gekruisig is, gesterf het, begrawe is, opgestaan het, en Homself lewend vertoon het, maar ook van hierdie aarde af vertrek en opgevaar het hemel toe.

Dan kom Hy terug, en dan sal Hy ons neem na Hom toe sodat ons kan wees en beleef waar Hy is en wat Hy beleef, naamlik die teenwoordigheid van die Vader, van God, by ons en in ons!

Hoe gaan dit gebeur? Luister hoe verduidelik Jesus dit: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”

Luister ook na die verdere verduideliking hiervan, soos ons dit lees in Johannes 14:23 e.v.:

“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

Met ander woorde, wanneer God die Heilige Gees kom en in elke gelowige volgeling van Jesus kom woon, sal elke gelowige – ja, ook hulle wat nooit die voorreg gehad het om vir 3 jaar fisies saam met Jesus, as God die Seun wat mens geword het, te kon wees nie – ja, sal elkeen van ons, elke dag, 24/7, die teenwoordigheid in en by ons van ʼn lewende, opgestane Jesus, en die teenwoordigheid van God die Vader, in en by ons deur die inwoning van God die Gees belewe!

Hoe merkwaardig!

Ons gaan ʼn nuwe realiteit, ʼn nuwe soort lewe, ʼn anderse, ewige manier van lewe ontdek en belewe, waar ons elke oomblik die teenwoordigheid in en by ons van ʼn lewende God, as Vader, Seun, en Gees kan en gaan belewe!

Dit gaan gebeur en sal gebeur wanneer die God die Gees, soos die Ou Testamentiese profete ook geprofeteer het, kom en in elkeen van God se gelowige kinders se lewens kom woon en werk!