“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 6)

Verlede keer het ons begin gesels oor hoe die Heilige Gees se koms, na Jesus se Hemelvaart, ʼn nuwe seisoen aangekondig het.

Die Ou Testamentiese profete het reeds hieroor geprofeteer.

Kom ek val sommer met die deur in die huis deur vir jou een van die gedeeltes in die Ou Testament aan te haal waarin God self reeds in die Ou Testament geprofeteer het van die nuwe seisoen wat gaan aanbreek as Jesus, die Messias, fisies van ons weggaan en God die Heilige Gees gaan stuur as “Immanuel”, God by ons.

Het jy mooi gehoor wat ek hier sê?  Die Heilige Gees is in hierdie nuwe seisoen nou ons Immanuel, God by ons, soos Jesus die 33 jaar van Sy lewe as mens hier op aarde was! Dit is die hart en rede vir die Heilige Gees se koms!

Luister en hoor hoe God self deur die profete profeteer hoe die Heilige Gees en dit wat Hy in die nuwe seisoen gaan kom doen, alles gaan verander!

Ons lees dit in Eseg. 36:24 en verder.

“Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.”

Ek is so bang jy het gemis wat presies hier staan, wat God self deur Sy Gees vir jou sê oor hierdie nuwe “lewe” wat in jou en my as gelowige volgelinge van Jesus is!

Kom ek herhaal vir jou wat ek God hier hoor sê:

“Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. 

Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. 

Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. 

... Julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.”

Kom ons lees nou wat verder daar in Esegiël hieroor staan.

“Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. 

Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie. 

Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”

Klink dit nie ook vir jou baie na wat Jesus self daar in Johannes 10:10b vir ons belowe het nie?

“Ek het gekom dat julle die lewe kan hê en dit in oorvloed.”