Ek wil prakties wees.
Hier in Suid-Afrika, en ek sien ook in Amerika, is ons op pad na die een of ander vorm van verkiesing.
Daarom my vraag: Het dit wat ons die afgelope tyd oor gepraat het, ook implikasies vir ons hoe en wat ons polities doen en onsself uitleef? Moet ons ook hierin “ambassadeurs van die hemel” wees?
Die antwoord is: “Natuurlik, ja!” En ja, ek weet dit is ʼn geweldige wye veld, vol kinkels en draaie, en vol slaggate! Maar kom ek waag om tog ʼn paar opmerkings hieroor te maak, sonder om in te veel detail in te gaan of kant te kies.
Ek is oortuig dat ons hierdie “hemelse” perspektief broodnodig het oor wat ons rol as mense van die lig is in die politiek, maar ook in die markplein en in jou eie persoonlike lewe.
Kom ons fokus op wat voorhande is.
By elke presidensiële, tussentydse, of munisipale verkiesing, voel diegene wat 'n spesifieke kandidaat of party ondersteun, asof dit die einde van die vrye wêreld beteken wanneer “hulle kant” verloor.
Diegene aan die wenkant voel natuurlik presies die teenoorgestelde.
Afgesien daarvan, hoor en sien ons hoe talle Christene tydens so ʼn verkiesing, politiek bedryf met dieselfde woede, venynigheid, en politieke moddergooiery as die ongelowige wêreld rondom hulle.
Daar is min verskil, behalwe vir die woorde "Jesus" of "God" wat hier en daar ingegooi word.
Tog wil ek, in die lig van God se Woord, wat ook al die uitslag gaan wees, elke treurende of jubelende volgeling van Jesus herinner: Geen president, minister, of wen-party, in hierdie komende verkiesing, gaan die koninkryk van die hemel hier op aarde tot stand bring nie!
Daarom, doen wat jy moet doen polities, soos wat 1 Kor. 10:31 vir ons sê. Maar onthou tog deurentyd, dat jy 'n volgeling van Jesus Christus is! Jy is ‘n ambassadeur en ʼn verteenwoordiger van 'n radikaal ander koninkryk, die koninkryk van die hemel, wat met ʼn ander soort politiek besig is!
Jy behoort aan 'n koninkryk wat nie van hierdie planeet is nie, maar wat in die eersteplek, bo alles, jou volle trou, jou totale passie en jou lewe self vereis.
Daarom kan en mag jy nooit jou volle trou, jou volle lojaliteit en passie vir enigiets anders of vir enige ander instansie, organisasie of politieke party of kandidaat gee nie.
As ambassadeurs van God se koninkryk kan ons dus alles wat ons polities mee besig is of doen, ontspanne doen, want ons weet: Ons God is in beheer en Hy het alles onder beheer!
Of jy nou verskrik is, en of jy verlig en bly voel oor die nuutverkose kandidaat, of party, of president na so ʼn verkiesing, ons Here roep ons almal op om namens daardie persoon of regeringsliggaam, elke dag na die troon van die Hemel uit te reik, sê 1 Tim. 2:1 tot 5.
“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. (1 Timoteus 2:1-5)
Let op wat ons moet bid. Dit gaan nie daaroor dat die betrokke politieke party of politieke kandidate die betrokke munisipaliteit, of kiesafdeling waarin binne hulle staan, sal verander sodat dit aan God gehoorsaam sal wees nie. Nee, ons gebed vir hulle is bloot dat die politieke owerhede ons as Christene sal toelaat om "stil en rustig" vir ons Here te lewe.
Soos ons reeds soveel keer vir mekaar gesê het: Ons as gelowige mense van die lig, as die “ekklesia”, is nie 'n afgesonderde, geïsoleerde groep mense nie. Nee, ons staan viervoet in hierdie wêreld, en is bedoel om hier waar die Here ons geplaas het, ons plek vol te staan in hierdie wêreld om met groot verantwoordelikheid en wysheid in hierdie wêreld van ons, met al sy uitdagings en behoeftes, en om vir die wêreld en sy mense 'n getuie te wees en bereid te wees om hier, op watter wyse ook al, soos wat die Here vir ons geroep het om te doen, ook hier ambassadeur te wees van die Koninkryk van die hemel.
Die belydenis dat "Jesus die Here is", is dus inderwaarheid 'n politieke stelling wat weier om te erken dat Caesar — of enige ander mag of owerheid of politieke party — die Here is.
Waar jy jou ook al bevind voor of na 'n politieke verkiesing: moenie dat jou hart verontrus word nie, en moenie jou volle hoop op enige feilbare mens vestig nie.
Om dit te doen, is om te vergeet dat jy deel is van 'n ewige koninkryk wat deel uitmaak van ʼn ander realiteit en werklikheid.
Daarom belowe ons nie trou aan enige vlag behalwe dié van die koninkryk van God nie. Wanneer ons dit uit die oog verloor, begin ons met ons politieke teenstanders omgaan soos die wêreld dit doen: deur hulle te kritiseer en selfs te maak of te praat asof hulle “uit die hel” en selfs demonies is.
Onthou dus maar die woorde van Ef. 6:12: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”
Die uitslae van enige politieke verkiesing beteken nie dat “die wêreld om ons gered is”, of “ondergegaan het” nie!
Inteendeel, dit is maar net kolletjies op die groot radar van die tyd. Bid die Here, daarom, vir perspektief!
Onthou ook maar, ons geestelike voorvaders het destyds onder heersers en regerings geleef waar hulle vir hulle geloof vir leeus gegooi is, aan die brand gesteek is as menslike fakkels, en allerlei ander barbaarse vorme van onderdrukking en lyding terwille van hulle geloof beleef het.
Moet dus nooit in die partypolitiek so verdiep of betrokke raak dat jy vergeet wie jy is en aan wie jy behoort nie.
Ons is deel van 'n koninkryk wat alle ander koninkryke sal oorleef en uiteindelik sal oorwin.
Jesus is die Here van daardie koninkryk, en Hy is ook die Here van hierdie wêreld, ongeag wie tans, of in die toekoms, aan die bewind is.
Soek eerstens Sy koninkryk; dit sluit in om aan hierdie wêreld te wys hoe die koninkryk van God lyk, optree en voel — veral tydens en midde ʼn reeds oorverhitte politieke tyd.
Alle presidente, ministers en regeringsamptenary, gaan net 'n voetnoot in die geskiedenis wees. Maar die koninkryk van Jesus Christus sal geen einde hê nie.
Mag hierdie perspektief jou en ander help om nie angstig of in vrees ook dit te doen waarvoor God jou geroep het om ook polities te doen nie!