Na die opstanding van Jesus het Hy vir 40 dae aan groepe van Sy dissipels, soms selfs so groot soos 500 op ʼn keer, aan hulle gewys dat Hy werklik lewe en nie meer dood is nie. Dan lees ons ook, daar in Handelinge 1:3, dat Hy hulle geleer het wat “die Koninkryk van God” werklik beteken.
In die lig van waarmee ons die afgelope tyd besig was, kan ons dit so sê: Jesus het ons kom leer dat “die Koninkryk van God”, wat die hart van die Evangelie of Goeie Nuus is, nooit net kan beteken dat mense kan hemel toe gaan nie! Inteendeel, die hart van die Evangelie is die Koninkryk van God!
Tydens Sy 3 jaar-openbare bediening het Sy dissipels gehoor hoe Jesus die Goeie Nuus proklameer van God se Koninkryk. Hulle het ook gesien hoe Hy vir hulle demonstreer hoe dit lyk en hoe dit lyk as mense daarvolgens, volgens die Weg van die Koninkryk, lewe.
Hulle het in geloof ontdek dat Hy as die Messias, die Beloofde Koning, ook beteken dat Hy die Koning van die Koninkryk van God is.
Natuurlik het Jesus se dissipels nie gedurende daardie 3 jaar saam met Jesus die enormiteit van die Koninkryk van God, in sy volle omvang en in al sy perfekte dimensies, verstaan nie. Dit sou God die Gees hulle stelselmatig leer nadat Hy in elke volgeling van Jesus kom woon het.
Hulle het beslis ook nie verstaan dat die Koninkryk van God die finale antwoord vir die mens se totale nood en al sy behoeftes is nie.
Ja, in hulle onkunde het hulle die Koninkryk gereduseer en probeer inpas by wat hulle as Joodse nasionaliste verstaan het. So hoor ons daar in Handelinge 1:6, hoe hulle vir Jesus vra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Soos wat die dissipels van Jesus destyds die Koninkryk van God gereduseer het tot dit wat met die Joodse volk gebeur, so hou die kerk van vandag aan om die Koninkryk van God so vir mense te teken dat dit selfs totaal onbelangrik vir die meeste mense begin lyk het.
Kan ek jou vra: Wanneer laas het jy in die prediking iets oor die Koninkryk van God gehoor wat jou weer na jou asem laat snak en laat ril het van pure opgewondenheid!
As ek ʼn bietjie terugstaan, sien ek hoe dit binne die Rooms Katolisisme gereduseer is tot hierdie patetiese stuk humanisme. Ja, selfs binne die Protestantisme, of ander denominasies, het dit vervaag tot iets totaal anders as wat Jesus vir ons hieroor geleer het.
Kan jy glo dat dit vandag nog in sekere gelowige kringe, of verkondig word as ʼn stuk nasionalisme, waar dit net gaan oor ʼn sekere land en sy mense, of selfs verander word ʼn soort rassisme, wat kan strek van ʼn ophemeling van die Joodse volk en ʼn terug-na-ons-Joodse-wortels-beweging kan wees, of die ander pool, soos ons in die Brits-Israeliese kringe deesdae hoor.
G ʼn wonder die moderne mens van ons tyd beskou die kerk (en let tog op die kerk met ʼn klein letter) as totaal irrelevant en selfs as deel van die probleem van ons tyd!
Hoe kan hulle die kerk (met ʼn klein letter) met erns bejeën as hulle rondom hulle hierdie versplinterde “klein koninkrykies” sien wat hulleself “kerk” noem en waar die Koninkryk van God en die Outoriteit van die Koning van die Koninkryk nie eers meer geld waar dit saak maak nie!
Kan ek waag om te sê: Dit wat as evangelie in baie dele van hierdie kerk (met ʼn klein letter) verkondig word, is lankal nie meer wat Jesus ons beveel het om te verkondig nie!
Die Goeie Nuus wat Jesus verkondig het, is die Koninkryk van God, maar ons het dit verdun tot wat ons glo verteerbaar en aanvaarbaar sou wees vir ons tyd en wat rondom ons gesê word. En dan leer ons dit nog boonop aan “nuwe bekeerlinge” en aan ons kinders!
So sien ons bedien Katolisisme hulle variant-godsdiens aan elke nasie waar hulle kom.
En die Anglikane voer hulle variant oral heen uit.
Dan sien ons ook hoe die Presbiteriane, die Metodiste, die Baptiste, die Pinkster- en Charismatiese gesindes, en die duisende ander “kerke”, hulle verdunde “evangelie” met hulle bepaalde kerklike “handelsmerk” of “brand” op, verkoop aan ʼn uitgehongerde wêreld, en dit alles sonder die werklike boodskap van die Koninkryk!
Ja, kan jy glo, ons hoor selfs hoe die Jehowa’s Getuies ʼn koninkryk verkondig, maar sonder die werklike Koning, Jesus Christus, God wat mens geword het!
Rondom ons is ʼn wêreld egter wat smag na vrede, blywende blydskap en lewensvreugde. Oral steier hulle en word hulle tot trane verdruk deur demoniese sisteme met al sy verstikkende beheer-maatreëls. En die Kerk, met ʼn hoofletter, wat die werklike antwoord en oplossing het in die Goeie Nuus van die Koninkryk, is so verward en bied geen antwoorde wat enige ewige waarde het nie.
Dit, terwyl die Koning van die Koninkryk ons die volgende bevel gegee het:
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” (Handelinge 1:8)
“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ” (Matteus 28:18-20)
“Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
Moenie 'n beursie of 'n reissak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad groet nie. Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’
As daar 'n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer. Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie.
As julle in 'n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word.
Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die koninkryk van God op hande.’
Maar as julle in 'n dorp kom waar hulle julle nie verwelkom nie, gaan dan uit in die strate en sê, ‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op daardie dag draagliker wees as vir daardie dorp.” (Lukas 10:3-12)