Die boodskap van die Koninkryk van God is die wonderlikste nuus wat enige arm, gevange, blinde, en vertrapte mens ooit kan hoor!
Dit is presies waarom elke arm, gevange, blinde, en vertrapte lid van die mensdom en samelewing hierdie “goeie nuus” moet hoor!
Ja, dit is ook waarom elke lid van die duisende mensgemaakte, -georganiseerde, en versplinterde kerke (met ʼn klein letter) nodig het om hierdie “goeie nuus” te hoor!
Om mense se vrae midde siekte, armoede, en swaar te beantwoord, stuur die Koning van alle konings mense soos ek en jy om vir hulle te sê: BEKEER JULLE, WANT DIE KONINKRYK VAN GOD IS HIER, IS ‘N WERKLIKHEID!
As hulle dan omdraai en hulle bekeer, ontdek hulle ook dat hulle in die proses van “omdraai”, hulle daarmee saam ook al hulle slim antwoorde, argumente, en planne van die verlede, vir die Here moet gee!
Hulle ontdek ook dat bekering nie ʼn eenmalige ding is wat ons eenmaal doen en dan is dit afgehandel en klaar nie. Nee, “bekering” is ʼn hartsgesindheid en keuse is om van nou af God te soek, Sy hart en Sy teenwoordigheid in en rondom ons, want daarsonder en sonder Sy genade, kan ons nie sinvol en betekenisvol lewe nie.
Ons ontdek wat in Romeine 8 staan: Dat ons nou kinders van God is, en dat Sy Gees, God die Heilige Gees, in ons woon en altyd by ons is. Hy wil ons lei en leer wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat Hy nie net nuwe lewe aan ons gegee het nie, maar dat Hy, soos wat ons die Koninkryk van God ontdek en soek, self daar in en by ons is om ons alles wat nodig is, te gee.
Dit is mos wat Matteus 6:31-33 belowe:
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Ons gaan ontdek dat die Koninkryk van God in ons ʼn werklikheid is.
Jesus, ons nuwe Koning, gaan heeltyd met ons praat. Ons moet net leer om Sy stem te herken en te kies om dit onvoorwaardelik en dadelik te gehoorsaam.
Ons gaan ontdek dat Hy op soveel maniere met ons praat. Ja, selfs deur ons gewete!
As ons Hom toelaat, gaan Hy ons leer om krities te staan teenoor elke gedagte en emosie wat by ons opkom; wat van Hom af is, en watter uit die hel is!
Ons moet net leer om Hom toe te laat om self ons gedagtes en gevoelens te verander en nuut te maak, soos Romeine 12:1 en 2 sê:
“En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Daar waar ons kies om die ou manier van doen te laat staan, en ja sê vir God se orde en Sy wil vir ons lewe, daar gaan ons die “lewe in oorvloed” waarvan Jesus in Johannes 10:10 praat, belewe.
God se Koninkryk is werklik goeie nuus, en is die enigste antwoord wat elke behoefte, honger en dors, in die lewe van die mens bevredigend kan aanspreek en kan stil.