Ons het die afgelope tyd soveel kante van hierdie “nuwe lewe” bekyk wat in my en jou gebeur wanneer ons kies om in geloof Jesus as Verlosser en Here te aanvaar.
Tog hierdie “nuwe lewe” ook ʼn aardse, soms baie seer kant, want wat as die “tire” die teer slaan in ons lewe? Wat as baie slegte, seer, en tragiese dinge ook met my as gelowige hier op aarde gebeur? Hoe troos al hierdie wonderlike waarhede waaroor ons tot hier gepraat het, ons dan?
Ek wil graag met jou die profetiese woord deel wat die Here vir my gegee het vir gelowiges hier in Suid-Afrika wat verslae gesit het na bv., die vloedskade wat daar was in soveel gedeeltes van ons land vroeër vanjaar. Soos daar in die Breëriviervallei waar boere my vertel dat so ʼn vloed nog nooit in die laaste honderd jaar gebeur het nie.
Ek wil jou uitnooi om met wat ook al in jou lewe as gelowige gebeur het, waar jy nie antwoorde vir al die waarom-vrae het nie, kom, en maak tyd om stil te raak en toe te laat dat God se Gees jou daar in jou situasie kom bedien.
Dit is wat ek hoor die Here sê:
“Bedaar! Raak stil! Haal asem en laat toe dat Ek self jou deur hierdie woord bedien!”
Kom ons blaai daar na Rom. 7 en 8 toe. Ons gaan veral fokus op wat daar in Rom. 8:18 tot 39 staan.
Eers wil ek hê dat jy, gelowige kind van die lewende God, moet ʼn bietjie stil word en bewus raak dat die Here self daar by en in jou is. Hoor hoe Hy jou verseker dat Sy genade vir jou genoeg is. Ja, Hy is by magte om aan jou alles in oorvloed te skenk, sodat jy in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en (ook genoeg kan hê) om volop by te dra vir elke goeie werk. (2 Kor. 9:8)
Sien in jou gees hoe hierdie belofte daar in jou lewe êrens vorentoe gebeur! Voel dit in jou lyf terwyl dit gebeur!
Onthou wat ʼn profetiese woord is, volgens 1 Kor. 14:3. Profesie is God wat praat en vir ons prentjies teken om iets in ons wakker te maak en te laat gebeur, wat ons gaan versterk, bemoedig en vertroos.
Rom. 8:18 tot 39 is daarom die Here se woord aan jou om 1 Kor. 14:3 in jou lewe te laat gebeur. Ongeag wat jou presiese omstandighede en situasie is.
Ja, miskien is jy ʼn boer wat oral om jou die gevolge en skade van hierdie massiewe vloed of tragedie sien. Of miskien wil dit net nie reën nie. Of miskien het jy in jou eie liggaam of in die lewe van ʼn geliefde, die afgelope tyd ontsettende pyn en seer beleef.
Wat ook al die geval is, ek weet, hoe sukkel ons om in sulke tye daaroor te praat.
Ja, al wat ons kan doen, is die woord wat ons 3 keer in hierdie gedeelte raak lees. Al wat ons uitkry, is hierdie… SUG!
In die Grieks is dit die werkwoord wat ʼn emosie beskryf wat uit ons uit kom, wat nie regtig in woorde omgesit kan word nie. Dit is eerder ʼn woordlose kreun, ʼn soort huil-geluid! Dit kom diep uit ons uit as gevolg van byna onmenslike stres, diepgewortelde, onverstaanbare, onverwoordbare pyn en trauma.
Het jy gesien wie “sug” almal in hierdie gedeelte in Rom. 8?
In vers 22 lees ons van die skepping wat “sug”.
In vers 23 lees ons van hoe ons as gelowiges “sug”.
En dan hoor ons in vers 26 hoe God se Gees hier van binne-af in ons ook sug!
Het jy al ooit na alles rondom jou, in die skepping rondom jou, ja, selfs midde ʼn storm, of self tydens ʼn natuurramp, hierdie “sug” gehoor?
Onthou, die skepping rondom ons, was daar in die begin (volgens Genesis 1), “volmaak” geskape. Maar as gevolg van die sondeval en die sonde van die mens, het dit ʼn karikatuur geword van daardie perfekte skepping en het dit begin verval en verander. Ja, dit gaan stadig maar seker dood rondom ons.
Dit is belangrik om ook te hoor dat hierdie sug en trane van die skepping, nie sonder hoop is nie. Selfs die skepping weet alles is nie verlore en gedoem nie! Daar is altyd hoop, want God is besig! God het immers ʼn groter plan en iets beter is op pad en besig om te gebeur! Ons is almal op pad na iets beter! Ons is op pad na ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde!
Vers 23 sê, dit is ook wat in ons as gelowiges aan die gebeur! Ja, as ons mooi luister, hoor ons telkens hierdie “sug” uit ons eie binneste as gelowige!
Soms gebeur verskriklik tragiese dinge ook met gelowiges! Daarom het ons nie altyd woorde om presies te sê hoe ons voel en wat ons belewe in sulke tye nie. Daarom sug, huil, kreun, en steun ons net in sulke tye.
Tog, nooit sonder hoop nie! Ons weet immers wie ons werklik in Jesus Christus is en wat met ons gebeur het! Ons weet dat ons wederbaar is en dat ons gees volkome nuut geword het.
Ja, natuurlik is daar steeds ʼn groot stuk stukkendheid in ons almal. Rom. 7 praat hiervan.
Daarom moet die Here deur Sy Gees ons manier van dink, ons gevoelens en baie van ons keuses verander om ons meer “heilig” ook daar te maak.
Daarom kreun, steun en sug ons as stukkende mense, want ons woon steeds op ʼn stukkende aarde, waar slegte dinge ook gebeur met God se mense.
Goddank egter, vir die Heilige Gees in ons, wat ook, daarom, saam met ons “sug”!
Ja, soms sug God se Gees hier van binne-af in ons. So hoor ons soms hoe dit wat uit ons mond en gees spontaan “ontsnap”, soms onverstaanbare woorde en ʼn onbekende taak kan wees, wat eintlik maar net God se Gees is wat besig is om namens ons en vir ons onthalwe met die Vader praat, waar ons gewone Afrikaans of Engels nie meer genoeg is nie! Gelukkig verstaan die Vader wat die Gees sê, want Hy bid volgens die wil en die hart van die Vader.
Met dit gesê, daarom, in die lig van hierdie profetiese woord, kan ek en jy as nuwe mense opstaan! Daarom bly ons nie lê na sulke tragiese gebeure nie! Nee, daarom kies ons om elke dag daardie een tree vorentoe te gee! Daarom kies ons om die een ding elke dag te doen wat ons kan doen! Dag vir dag! Een ding op ʼn slag!
Soos die Domino-effek ons leer! So begin ons die 5 cm-domino in ons lewe ʼn stoot te gee wat die regte ding is om te doen in die lig wat die Here vir ons wys!
Daarom sien ons ook hoe daardie 5 cm-domino vorentoe val en hoe dit ʼn 7,5 cm-domino “outomaties” omstoot, sodat dit weer die 11,2-cm domino, en die 16,7-cm domino daarna kan laat omval. So sien ons hoe die 1,92 m domino op nommer 10, val en hoe daar, op nommer 21, selfs ʼn 250 meter domino begin val!
Ja, daarom het ons nodig om die Here te vra om Rom. 12:2 en 2 Kor. 10:3 tot 5, in ons te laat gebeur. Sodat Hy ons gedagtes kan begin vernuwe en ons kan help om in ritme te kom met hoe Sy Gees self ons hiervandaan wil lei!