Profetiese woorde vir 2025 en verder (al 7 dele)

Raak stil voor die Here en laat Hy jou aanraak en genees

Ps. 46:10 (11) – Bedaar – raak stil, haal net ʼn bietjie rustig asem, en ervaar dan dat Ek God is! Hoog bo die nasies, hoog bo die aarde! In beheer van alles wat rondom jou, tussen die nasies, op aarde en selfs in die wêreldmarkte gebeur!

Ps. 62:5-8 – Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.

Jes. 30:15 – As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Mark. 4:39 – Gee Jesus die geleentheid om ook die storms stil te maak in jou lewe.

Luk. 4:35 – Laat Jesus toe om ook die drake en geeste in jou stil te maak.

Ons vergeet baie keer dat ons as gelowiges nie net gees is nie. God se prentjie in die Woord van die mens is dat ons gees is, met ʼn siel, wat woon in ʼn liggaam.

Toe ons gekies het om “ja” te sê vir Jesus en Hom aanvaar het as Verlosser, Here en Koning, het God die Gees ons gees wederbaar en nuutgemaak. God die Gees het in ons gees kom woning maak, om ons Helper, Chaperone, Leermeester en Leier te wees wat ons wil lei deur Sy Woord en Sy stem.

God die Gees het ook in ons kom woon om ons siel te “heilig”. Soos Rom. 12:2 sê: Laat Hom toe om jou gedagtes (eintlik jou hele brein, frontale lob, maar ook jou emosionele brein en daardie deel van jou brein wat jou keuses en optrede bepaal) te vernuwe. Sodat jy kan weet wat God se wil vir jou lewe 24/7 is.

God se Gees is ook Geneesheer en Terapeut wat jou wil genees van trauma, emosionele pyn, depressie, minderwaardigheidsgevoelens, wettisisme, daardie gees van perfeksionisme, maar ook daardie bipolariteit, verwarring, verslawing en dopamien-verslawing waaraan jy ly.

Laat Hom toe om jou te bedien en te genees.

God het daarom ledemate van Sy liggaam, ander gelowiges rondom jou, en selfs lede van die vyfvoudige bediening rondom jou, opgestel om binne die gemeenskap van ʼn geloofsfamilie rondom jou, jou aan te raak en jou te genees.

Hy wil elke dag die tye wat jy doelbewus en gefokus stil raak in Sy teenwoordigheid, of waar jy sommer net Hom aanbid, loof en prys, daar wees vir jou en jou bedien.

Kom, stap in by Jesus se spreekkamer en by Sy operasiesaal. Raak stil en kom tot bedaring! Haal rustig asem en word bewus van Sy teenwoordigheid in en rondom jou. Hier is jy veilig! Hier kan jy net ontspan en oorgee! Hier wil Hy jou bedien.

Ja, Hy weet van die oorlog wat binne in jou aan die gang is. Hy ken al jou gedagtes, en hoe jy soms worstel met jouself en dit wat rondom en in jou gebeur! Hy ken jou.

Ja, Hy weet selfs van die geveg daar binne in jou waarvan ʼn Paulus daar in Rom. 7 en in Gal. 5 van praat. Daardie drake wat elke nou en dan opstaan, uit die hok wil kom en wil vuur blaas, en ander wil byt en seer maak.

Hy weet dat jy baie dae nie eers jouself kan verstaan nie. Jy is Sy kind en wil Hom dien en liefhê, maar soms doen en sê jy dinge wat so teen jou grein is!

Dit is dan wat jy soos ʼn Paulus, jou identiteit as kind van God moet vasgryp en saam met Paulus moet bely wat daar in Rom. 7:24,25 staan.

Dit is ook wanneer jy in Paulus se woorde daar in Rom. 8, moet sê: Daar is geen veroordeling vir iemand wat in Christus Jesus is en wat vashou in geloof aan wat Hy reeds klaar en volledig vir ons gedoen het nie!

Al wat ons nou nog moet doen, is om Sy Gees wat in ons woon, toe te laat om die stuurwiel by ons oor te neem. Ons kan maar net die beheer aan Hom oorgee en Hom toelaat om ons te lei, te verander, te vernuwe en ons te genees waar dit nodig is.

Daarom moet ons leer om meer en meer sensitief te word vir Sy stem. Ja, ons moet Hom selfs toelaat om saam met ons te bid, in tale of andersins.

Ons moet Hom toelaat om ons te bedien en te lei met Sy stem, en ons te vertroos en te herinner dat ons ʼn ABBA, ʼn Pappa-Vader in die hemel het, wat ons liefhet en met ons besig is.

Ja, die werk wat Hy in ons begin het, sal Hy voltooi. Soos Rom. 8:28 sê: Hy kan selfs die ergste wat met ons gebeur in hierdie stukkende wêreld vol stukkende mense, waar verskriklike goed ook met ons as Sy mense kan gebeur, in ons lewe gebruik tot ons voordeel.

Ja, Hy kan ook hierdie dinge wat die vyand bedoel het om by ons te steel, ons te vernietig en selfs dood te maak as hy kon, alles gebruik tot ons voordeel en tot ons genesing. Ja, Hy kan ons “mess”, verander en deel van ons “mess-age” maak!

Daar in God se spreekkamer-stoel en op Sy operasietafel, kan Hy ook kom en ons liggame bedien.

Daarom staan daar in 1 Tess. 5:23 en 24:

“Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!

Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.”

Daarom praat die Here in hierdie tyd soveel oor ons gesondheid en oor hoe Hy ons wil lei na beter en optimale fisiese gesondheid.

Laat toe dat Hy jou ook hieroor bedien.

Gaan, spandeer tyd saam met gelowiges wat die Here gebruik om genesing van allerlei aard aan Sy mense te bedien.

Jy hoef nie vir ewig of vir altyd hier op aarde te worstel waarmee jy worstel nie. Daar is genesing moontlik.

Jesus staan vandag voor jou en vra ook vir jou: Wat wil jy hê moet Ek vandag vir jou doen?

 

Ek is besig My meesterplan te openbaar sodat My Koninkryk kan kom

Die Here het my herinner hoe Hy meer as 30 jaar gelede Homself op ’n nuwe manier aan my geopenbaar het. Dat God die Seun, Jesus, nie net Verlosser, Here, en Koning is nie, maar ook die Doper met die Gees is.

Gedurende die tyd het Hy my na oral in Sy Woord geneem en vir my gewys hoe Hy Homself as God progressief deur die eeue aan die mensdom kom openbaar het.

Ja, reeds daar in Genesis 1 ontdek ons God as Skepper-God, die Vader wat geboorte en lewe aan alles wat bestaan gee.

Daar ontdek ons ons God die Woord, wat Woord-saad spreek en saai, en dan is lig en skei die waters in wat ons vandag ken as “aarde” en “see”, ens.

So openbaar God verder Sy verlossings- en herstelplan. Hy gaan ʼn gewone mens word, kan jy glo! Die Messias wat gebore gaan word om vir ’n ruk tussen ons op aarde te kom woon.

Op 11 September 3 v.C., volgens die beste navorsing, word God die Seun gebore as ’n Joodse seuntjie in die dorpie Bethlehem, in Israel. Hy wat ook beskryf word as Immanuel, God by ons.

As mens leef Hy vir meer as 33 jaar tussen ons, word gekruisig op 9 April 30 n.C., sterf, om dan na drie dae op te staan uit die dood. En vir die volgende 40 dae daarna, vertoon Hy Homself as die nuwe Koning op aarde lewend aan meer as vyfhonderd mense (1 Kor. 15).

Hierdie Jesus, God die Seun wat mens geword het, openbaar dan profeties aan ons dat na Sy hemelvaart, Hy as die Doper met die Gees, God die Gees na hierdie wêreld gaan stuur om IN elkeen van God se mense te kom woon om elke dag by en in elkeen van ons te wees.

God se hart in hierdie nuwe seisoen is om Sy Koninkryk sigbaar te laat word in hierdie stukkende aarde vol stukkende mense, deur Sy nuutgemaakte mense OP wie God se Gees gekom het.

God die Gees wil elkeen van ons bonatuurlik toerus met bonatuurlike gawes en vermoëns sodat Hy deur ons Sy Naam kan groot maak en Sy koninkryk hier op aarde stukkie vir stukkie kan laat deurbreek.

As Doper met die Gees, gee Jesus verder ook spesifieke mense wat nie net ander kan bedien met die gawes van die Gees nie, maar wat “God se gawes” aan Sy Liggaam, die Ekklesia, hier op aarde is.

Luister self wat God se Gees hieroor openbaar in Ef. 4:11 tot 16:

“En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”

God gee Sy mense, die Ekklesia, opdrag om die Goeie Nuus, die Evangelie van die Koninkryk, te gaan bedien aan mense.

Hulle taak is om te getuig oor Jesus en wat Hy gedoen en gesê het. Die wêreld om hulle gaan hulle herken aan die manier hoe hulle mekaar liefhet, want dit gaan dieselfde liefde wees waarmee Jesus liefgehad het.

God gaan hulle ook gebruik om mense te genees, en vry te maak van allerlei demoniese bindinge wat hulle bind.

Ja, hierin gaan hulle presies dieselfde doen wat Jesus gedoen het, soos God deur die profeet Jesaja geprofeteer het daar in Jes. 61.

Daarom sien en hoor ons vandag nog hoe God se mense, deur die salwing van die Gees, mense genees, profeteer, wysheid en bonatuurlike detail kennis bedien, demoniese magte aan die stuur van sake in mense en gemeenskappe openbaar, wondere laat gebeur, en as “bedienings-leiers” vooruit stap om as pioniere op soveel terreine nuwe wyn en nuwe wynsakke oral te bedien en uit te spel.

Reeds daar in Lukas 5 het Jesus geopenbaar dat dit mense vreemd en vyandig gaan laat opkyk en optree teenoor hulle en dit wat God se Gees nuut openbaar. Ja, God se mense gaan selfs vervolg en doodgemaak word.

Dit gaan wees asof hierdie mense wat God gesalf het om “nuwe wyn” te bedien, hulle tyd 10, 20, en selfs 30 jaar voor is. Die meeste mense gaan beslis nog nie gereed wees vir hierdie “nuwe wyn” en “nuwe wynsakke” nie!

Die Here God sê: Ek is in hierdie seisoen oral op aarde besig om My Meesterplan te openbaar oor hoe My mense, My Liggaam, die Ekklesia, in eenheid, begin hande vat en saam My hart en plan begin soek op terreine waar Ek vir hulle bonatuurlike outoriteit, wysheid en insig gegee het.

Daar gaan bonatuurlike sinergie plaasvind en unieke oplossings gevind word vir tergende vrae en uitdagings van ons tyd!

Dit is wat julle nou rondom julle sien gebeur, sê die Here.

As jy dit nog nie raaksien nie, vra My sodat Ek jou oë daarvoor kan oopmaak. Ek wil jou so nuwe hoop gee. Ek wil ook aan jou ’n nuwe roeping gee vir hierdie tyd. Sodat jy kan verstaan waarvoor Ek jou in hierdie tyd wil gebruik.

Natuurlik gaan Ek elkeen van julle op ’n unieke, anderse wyse gebruik. Kom sit jy by My voete en kom hoor by My wat My plan vir en met jou is.

Kom hoor by My waar jy die tuinslang moet wees waardeur Ek My genade, My liefde, My genesing, My Woord, My bevryding, My lewe en dit in oorvloed, wil laat vloei deur jou.

Sorg jy maar net dat jy stewig vasgekoppel is aan My as die Kraan, as die Bron. Dan sal die lewe begin vloei, en dit in oorvloed. Ook deur jou.

Weet ook, sê die Here, dat dit waarmee Ek besig is in hierdie seisoen, iets totaal nuut en anders gaan wees.

Dit gaan wees, soos Ek reeds in Openbaring 18:4 aan julle geopenbaar het. Mense gaan hoor hoe Ek vir hulle sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.

Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop, en God het haar ongeregtighede onthou.

Behandel haar soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het.”

Julle weet dat Ek na Babilon verwys het, en alles in diens en deel van Babilon se beheer in hierdie wêreld, sê die Here.

Dit beteken prakties, openbaar die Here, dat julle nie langer deel hiervan kan wees nie. Julle kan en mag nie langer julle energie, lewens, tyd en geld daar gee en investeer nie.

Ja, selfs al het julle vir jare My vlag daar geswaai en verteenwoordig.

Daardie tyd is verby, sê die Here.

Kom, sit aan My voete en laat Ek aan jou verduidelik en openbaar wat dit in jou lewe beteken om “uit haar uit te kom”!

“Gaan uit haar uit, my volk!”

 

’n Nuwe prentjie van die Bybelse Ekklesia (deel 1)

Vir jare praat die Here reeds profeties met my oor wat Hy bedoel met die begrip “nuwe wynsak” in Lukas 5, en meer spesifiek oor hoe die Bybelse Ekklesia gaan en moet lyk teenoor die “kerk-rondom-ons” (KRO) wat ek en jy elke dag rondom ons sien en beskryf as “kerk”.

Dit was vir my merkwaardig hoe die Here eers “nuwe wyn” slukkie vir slukkie aan my bedien het. Anders sou ek eenvoudig verstik het daaraan want ek was te gewoond aan die “ou wyn”, en aan hoe ek tradisioneel wat in God se Wood gestaan het, verstaan het.

In my eerste boek, “Waarheen met die Nuwe Wyn”, het ek dit so beskryf: Dit was soos hierdie teologiese vesting met stewige mure, waar wonderlike Skrifwaarhede deel van was, maar oral, baie strategies vas gesement, was ook ʼn klomp teologiese leuens en waninterpretasies van die Skrif.

God se Gees het egter stelselmatig die een muur na die ander in my teologiese verstaan en verstaan van die Skrif kom omstoot.

Ek moes, soos in enige paradigmaverskuiwing gebeur, van vooraf deur God, deur Sy Woord en Gees, “oorgeleer word” om met nuwe oë en ’n nuwe verstaan God se geïnspireerde Woord leer lees en verstaan.

In my geval moes Hy ook die teologiese chaos wat in die NG Kerk uitgebreek het, gebruik om hierdie verskuiwings te bewerk.

Vandag, meer as 30 jaar na hierdie paradigmaverskuiwing in my eie lewe begin gebeur het, wys die Here my hoe hierdie leuens wat Hy vir my uitgewys het, ook in die fondasie van elke deel van die “KRO” wêreldwyd ingemessel is.

Daarom is hierdie profetiese woord wat ek hieroor gehoor het, bedoel vir elke deel van die “KRO” wêreldwyd!

Die Here het my herinner hoe Hy reeds in 1988 daar in Switserland en in die res van Europa, vir my gewys het dat die wortels van so baie van die teologiese leuens en verkeerd-verstaan van Sy Woord, reeds in die Reformasie van 1517 en die jare daarna gelê het.

Die vyand het dit reggekry om soveel van die leuens en verkeerd-verstaan van die Woord in die leer van die Rooms Katolieke kerk, waaruit ’n Martin Luther, ’n Calvyn, en soveel ander van die reformatoriese leiers oorspronklik vandaan gekom het, ook in die leerstukke van die Reformasie in te messel.

Dink byvoorbeeld aan die “doop” wat ons oorgeërf het uit daardie Rooms Katolieke agtergrond, waar babas en suigelinge met water besprinkel word en dit as ʼn Bybelse “doop” beskryf word!

Daarmee saam kom ʼn skeef-getrekte prentjie van die “kerk” waarvan jy “deel” word “deur gedoop te word as baba en as kind van gelowige ouers”.

Toe kom Keiser Konstantyn die Grote verder, as ’n jong onvolwasse en baie verwarde Christengelowige, onder die leiding van dwase geestelike leiers, en pen in wetgewing vas dat gemeentes en kerke “gelei en geleer moes word” deur teologies opgeleide leiers, anders was dit “teen die wet”!

So ontstaan die duisende mensgemaakte en mens-uitgedinkte “kerksisteme” in elke deel van die “KRO” wat nooit God se bedoeling was nie.

Wat die tragedie soveel groter maak, is dat hierdie “KRO” uiteindelik geld en ʼn Mammon gedrewe insamelingstelsel moet gebruik om hierdie mensgemaakte kerksisteme in stand te probeer hou.

Daar het jy, in kort, die rede agter die versnipperde KRO wat ek en jy ken van derduisende mens-uitgedinkte “kerke”, “kerk”-sisteme, gemeentes en selfs “kerk” – “brands” wêreldwyd rondom ons!

Terwyl Jesus sê: SY KERK IS EEN!

Hoe bevestig dit nie Jesus se eie woorde daar in Matteus nie!

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Daarom hoor ek die Here sê: Dit is waarom daar tans wêreldwyd hierdie “uitbeweeg” en wegbeweeg uit tipies Christelike kerksisteme plaasvind.

Dit gebeur beslis nie omdat My mense nie meer My en Jesus nie liefhet en nie meer wil dien nie, sê die Here. Dit gebeur juis omdat hulle My liefhet en met mag en mening wil dien!

Ek is besig, sê die Here, met ’n totale vernuwing en herskepping van wat julle as Kerk van Jesus ken.

Dit is waarom so baie van julle half in limbo is in julle verhouding met ander gelowiges rondom julle daar waar julle woon en werk.

Natuurlik raak dit ook die geestelike leiers wat Ek geroep het om in My Ekklesia voltyds te bedien.

Daarom, sê die Here, is dit ook waarom Ek vir jou as een van My vyfvoudige “gawes” (Ef. 4) aan My Ekklesia, reeds in 1993 gesê het dat Ek jou ALLEEN-VERSORGER en HERE gaan wees.

Jy mag nooit enigeen toelaat om enige sê in jou lewe en bediening te hê deur ʼn maandelikse salaris nie. Niemand mag jou met geld manipuleer of verhoed om te sê wat Ek jou aansê om te sê of te doen nie.

So hoor ek die Here sê dat ons moet terugkeer na die prentjie van die Bybelse Ekklesia soos ons dit in die gemeentes in Handelinge en in die sowat 300 jaar daarna gesien gebeur het.

Dit is ook waarom Hy tans vir Sy mense wêreldwyd in die woorde van Openbaring 18:4:

“Gaan uit haar uit, my volk!”

 

’n Nuwe prentjie van die Bybelse Ekklesia (deel 2)

Vir jare praat die Here reeds met my hieroor. Dit is egter nou eers dat Hy my die vryheid gee om openlik hieroor te profeteer.

So, gordel vas, want dit is wat ek die Here hieroor hoor sê.

Natuurlik, soos oor enigiets wat ek of enigiemand anders profeties bedien, weet jy wat God hieroor sê.

Soos daar in 1 Tess. 5:19 e.v.

“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.

Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.

Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!

Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.

Broers, bid ook vir ons.”

So, wat sien ek in God se Woord en hoor ek Hom sê oor die nuwe wynsak wat in staat is om dit wat Hy in die Ekklesia wil doen, te akkommodeer om Sy Koninkryk te laat kom op aarde?

Kan ek jou net vinnig herinner oor wie ons praat as ons van die “Bybelse Ekklesia” praat?

Ons praat natuurlik van mense wat die een of ander tyd in hulle lewe ’n persoonlike geloofsontmoeting gehad het met ʼn lewende Jesus, God die Seun, as Verlosser, Here en Koning.

Hy het Sy genade wat Hy deur Sy menswording, lewe, sterwe, en opstanding, aan elkeen van ons deur Sy Woord en die Gees kom aanbied. Ons het dit in geloof aanvaar en gekies om Hom vir die res van ons lewe te dien en te volg.

So het God die Gees ons nuutgemaak, “wederbaar” sê Jesus daar in Johannes 3, en het Hy in ons kom woon om ons te lei en te leer alles wat Jesus vir ons gedoen het.

God die Gees wil nou elkeen wat deel is van die Ekklesia, bonatuurlik toerus en salf met die gawes van die Gees sodat die Here ons kan gebruik as getuies en ambassadeurs van die Koninkryk van die hemel hier op aarde.

Vir ons, sê Jesus verder: Bo alles, bly soek en wees sensitief vir My stem, want Ek wil julle elkeen wys hoe julle inpas in My plan om My Koninkryk te laat kom en wat My wil vir jou lewe is.

Vir ons sê Jesus verder, bv., daar in Johannes 13:34,35: “Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Op soveel plekke in Sy Woord, spel Hy dan vir ons uit wat liefhê en familie-wees in Jesus prakties beteken en hoe dit lyk.

Jy onthou immers wat alles hieroor staan in Skrifgedeeltes soos 1 Kor. 12 tot 14; Johannes 14 tot 17; die hele boek van Efesiërs; en 1 Johannes.

Weet jy dat die woord, “Ekklesia” binne die tipies Romeinse Ryk verwys het na hierdie groepie uitverkore, toegeruste individue wat Rome dan uitgestuur het om êrens in die Romeinse Ryk, lokaal in ’n dorp of stad, “neergesit” te word, om daar die nuwe, beter manier van lewe, en waardes en hoop vir ’n beter toekoms, tussen al die mense in daardie gemeenskap prakties te gaan demonstreer en uit te leef.

Op so ’n manier dat daardie gemeenskap “iets van hemel op aarde” daar tussen hulle kan proe en beleef!

So is die Ekklesia van Jesus geroep om ambassadeurs en verteenwoordigers te wees van ʼn nuwe, beter lewe, om die “Koninkryk van die hemel” hier op die aarde te laat gebeur! Mense om ons moet dit sien en beleef in die manier hoe ons mekaar liefhet en vir mekaar omgee en sorg.

Volgende keer gesels ek verder oor wat die Here profeties hieroor sê.

 

’n Nuwe prentjie van die Bybelse Ekklesia (deel 3)

Ons is besig om te gesels oor wat ek hoor die Here profeties oor “die nuwe wynsak” sê wat die Bybelse Ekklesia nou kan akkommodeer.

Die nuwe prentjie van die Bybelse Ekklesia wat ek sien is waar die gemeenskap om ons werklik “Bybelse koinonia” of “liefdevolle saam wees” en daar wees vir mekaar in alle opsigte, 24/7, sien en beleef.

Waaraan gaan hulle dit sien?

Hulle gaan iets sien van wat destyds in Jerusalem en in ander geloofsfamilies waarvan ons in Handelinge lees, gesien en beleef is.

In dinge soos: Hoe ons mekaar prakties liefhet, en selfs bereid is om alles met mekaar te deel, behalwe ons huweliksmaats!

Luister na wat daar in Hand. 2 en 4 hieroor staan.

“Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Hulle het almal elke dag getrou… bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind.”

En: “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”

Hoef ek te vertel hoe die Ekklesia doelbewus en gefokus deel geword het van die gemeenskappe waarin die Here hulle neergesit het, om daar tussen hulle heeltyd op die uitkyk te wees na wat die werklike nood daarrondom hulle is, en om dan sensitief te luister na hoe die Here hulle wil gebruik om daardie nood bonatuurlik te bedien.

Verder het hulle sensitief gewag op oop deure met oop harte vir geleenthede om te getuig oor die Goeie Nuus van die Koninkryk van God wat ook vir hierdie mense en hierdie gemeenskap aangebreek het.

In ’n wêreld wat demonies gedryf en gemanipuleer word deur ’n gees van gierigheid, ego’s en vrees, gaan die Here ons gebruik om soos 1 Tess. 5 sê, ʼn nuwe, beter manier en styl van lewe, prakties uit te leef daar tussen hulle.

Luister hoe teken Jesus dit?

Hy teken vir ons die Ekklesia wat letterlik op die voorstoep van die hel neergesit word! Met die belofte en wete in hulle hart van die God wat hulle daar neergesit het. Luister wat staan hieroor in Matt. 16:

“Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.

En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots (CN – van jou getuienis) sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

In Matteus 5, teken Jesus die Ekklesia binne hierdie nuwe wynsak as die Lig en hierdie Stad op die berg:

“Julle is die lig vir die wêreld. ʼn Stad wat op ʼn berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ʼn mens nie ʼn lamp op en sit dit onder ʼn emmer nie maar op ʼn lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.

Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

So gaan ons telkens geleenthede kry om die demoniese geeste trompop teë te staan in die Naam van Jesus.

Hy gaan ons gebruik om nood, seer, trauma, stukkende verhoudinge, en selfs armoede en die wortels daarvan, te gaan bedien en aan te spreek in die Naam en met die krag van ons Koning.

Daarom kan ons binne hierdie nuwe wynsak nie vrede hê met al die onskriftuurlike leringe, tradisies, en demonies-gedrewe verdelings en verdeeldheid wat in die “KRO” (“kerk rondom ons”) op allerhande maniere sy kloue nog in God se mense het, en wat oral so gereeld uit-pop en dit wat God werklik wil doen, blokkeer of in die wiele ry nie.

Omdat hierdie nuwe wynsak so revolusionêr nuut en anders is, gaan dit nie baat om te probeer om die bestaande mensgemaakte kerkstrukture te probeer herstel of te vernuwe nie.

Nee, dit gaan ’n radikale paradigmaverandering vra waar ons God toelaat om deur Sy Woord en Gees “nuwe wyn” aan ons te bedien en ons dit begin drink!

Die res sal dan natuurlikgewys self volg.

 

’n Vars nuwe Koninkryk-ekonomie! (deel 1)

Die Here het profeties met my begin gesels oor wat ek die nuwe, vars Koninkryk-ekonomie wil noem.

Hy herinner my aan die gebeure in Numeri 13 waar Moses opdrag van die Here ontvang om manne uit te stuur om die land Kanaän wat Hy aan die Israeliete wil gee, te verken.

Dan lees ons in vers 23 die volgende: “Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye. “

Ek en ander rondom my, beleef tans dat die Here besig is om vir ons nuwe openbaringe, nuwe patente, nuwe platforms en sisteme te wys, waarop en waardeur die ekonomie van God se Koninkryk los en apart van die tipiese Babiloniese sisteem waaraan ons so gewoond is, kan plaasvind. En sê Hy: Dit gaan wees soos hierdie reuse druiwetros uit die Eskolspruit wat God se mense na hulle asem laat snak en laat sê: Ons wil deel hieraan hê!

Om in Kanaän, die land van melk en heuning te kom, moet ons soos Openbaring 18:4 sê, uit Babilon (as teenbeeld van Egipte destyds) kom. Dit gaan beteken dat ons in geloof waag en ja sê om nou in te stap in wat God se Koninkryk se koms van ons gaan vereis; ja, ʼn nuwe Koninkryk ekonomie, en alles verder wat God se Gees aan ons openbaar in die verband.

Binne hierdie nuwe Koninkryk-ekonomie het ons as God se mense net een burgerskap, want ons is burgers van die Koninkryk van God hier op aarde, en deel van die Stad op die berg waarvan Jesus gepraat het, wat gebou is op die fondasie van die Koninkryk.

Begin verstaan hoe geld en bates binne die Koninkryk van God werk!

Gedurende die afgelope jaar het die Here jou op baie maniere, ook deur hierdie bediening aan jou, begin wys hoe werk geld en ons bates binne God se ekonomie.

So het die Here ons geleer dat alles, alles, alles, aan God alleen behoort. Al die land, al die goud en die silwer, ja, alles op aarde en in die hemel.

Hy leer ook aan ons in Sy Woord dat ons as Sy mense, Sy Ekklesia, alles geërf het in Christus Jesus!

Dink ʼn bietjie mooi oor wat dit presies beteken!

Kyk ons rondom ons, lyk dit asof die Liggaam van Jesus niks het nie, of skynbaar net genoeg het om te oorleef elke dag!

Daarom is ek so dankbaar vir wat die Here ons hieroor leer. Ja, dat Hy ons meer begin leer het oor hoe geld en finansies en bates behoort te vloei binne die konteks van die Koninkryk wat hier op aarde moet kom.

So het Hy ons geleer dat alhoewel geld neutraal is, is die vraag wat belangrik is: Is dit in diens van Mammon of in diens van God en Sy Koninkryk?

Geld is altyd aan die werk. Die vraag is net: Aan wie se kant werk geld?

So wys die Here hoe Sy mense, omdat ons die leuens van die vyand glo, dit wat Hy ons gee, investeer in die wêreld se sisteme, in diens van Mammon!

So werk dit in diens van die vyand, in besighede, maatskappye, banke en ander finansiële instansies wat besig is om die vyand se agenda op aarde te laat gebeur.

Dink maar net aan al die genoteerde maatskappye op die aandelebeurs, hier by ons in Suid-Afrika maar ook oral in die wêreld. Dink hoe hoeveel van hulle het ingekoop in die tipiese WOKE-agendas van die wêreld en is besig om op die een of ander manier aborsie en ander demonies gedrewe oogmerke te bevorder.

Oral op aarde hoor ek God se mense vra: Maar, Here, waar is die geld wat ons nodig het om te doen wat U ons beveel het om U Koninkryk te laat kom?

Dan hoor ek Hom antwoord: Ek het reeds soveel geld vir My kinders in die Liggaam gegee maar wat het julle daarmee gedoen? Kyk net hoeveel daarvan het julle gebruik om julle eie selfsug, gierigheid, ego’s, en vrese te dien?

Waarom het julle soveel daarvan in diens van Mammon en die vyand beskikbaar gestel?

Soveel van julle gee selfs vir die “kerk”, of gee om “kerke” en “kerkgeboue” te bou en te onderhou, omdat julle glo dat julle so vir My en vir die Koninkryk gee, maar julle sien nie die houvas van Mammon en Babilon raak binne daardie kerksisteme nie.

Dit het tyd geword dat julle by My voete moet kom sit sodat Ek vir julle My hart kan wys en ook waarmee Ek al so lankal rondom julle besig is!

 

’n Vars nuwe Koninkryk-ekonomie! (deel 2)

Vriende, God wil vir ons die nuwe Bybelse prentjie van die Kerk/Ekklesia kom wys wat Hy wil gebruik om Sy Koninkryk te laat kom en om dinge in plek te kry sodat Sy Koninkryk kan kom!

Ons het nodig om te hoor en te ontdek dat die Here besig is om platforms te bou waar Sy mense kan investeer en besigheid kan doen, die dag as hulle kies om hulle geld en bates te onttrek uit Mammon-gedrewe sisteme en platforms.

Gaan sit by die voete van Jesus en hoor wat Hy bedoel as Hy vir jou sê dit wat daar in Openbaring 18:4 staan: “Gaan uit haar uit, my volk!”

Dan kan ons as die Ekklesia begin gesels en saam werk aan ʼn ekonomie in diens van die Koninkryk en begin om daarin te investeer.

Hoe lyk platforms en kanale wat God se hart vir nou kan laat gebeur?

Waar moet ons, soos Noag, ’n ark bou?

Moet ons, soos in die Ou Testament, stede begin uitsit en bou waarheen mense heen kan vlug as dit nodig is?

Hoe kan ons goud en silwer, en alles wat God aan ons toevertrou het, gebruik en investeer sodat dit werklik in diens kan staan van God se Koninkryk?

Het ons planne in plek as die Here die “wealth” en bates van die nasies na die regverdiges en Sy mense toe bring?

Wag die Here dalk op ons, voordat Hy dit laat gebeur?

Oral in die Skrif hoor ons dat dit God se hart is om Sy mense uit hulle skoene te seën en te gebruik in Sy diens!

Daarom wil ek hierdie deel van die profetiese woord afsluit met ’n prentjie wat die Here vir ’n profeet in ons binnekring gewys het.

Die Here het ʼn Menora met sy sewe kandelare gewys en gesê dat Afrika en dit wat hier gebeur, soos ’n Menora gaan wees wat lig vir die nasies moet bring!

Aan die een kant het die Here ons geseën met ‘n skat natuurlike bronne en “wealth”. Hy het ons verder gesalf met ʼn gees van vrygewigheid om hierdie bronne en “wealth” te deel met die wêreld waar dit nodig is.

Sy hart is dat ons ’n plek sal wees waarheen mense kom wat ’n toevlugsoord van die een of ander aard soek en waar hulle Bybelse vergifnis en genesing na gees, siel en liggaam kan beleef.

Vir hierdie rede het die Here Sy mense in Afrika gesalf en bonatuurlik toegerus met ’n bonatuurlike gees en gawe om daar te wees vir ander mense en om hulle te wil dien.

Midde dit alles gaan hierdie “nuwe” wat in God se hart is, gebore word!

Die Here sê: Deur Afrika en wat hier gaan gebeur, gaan Ek geboorte gee aan dinge wat Ek ook in ander dele van die wêreld wil laat gebeur.

Omdat die Westerse wêreld so vasgevang sit in die kloue van Mammon en Babiloniese sisteme, gaan hierdie dinge in Afrika begin gebeur. Afrika was nog altyd oop vir My Woord en vir die leiding van My Gees, sê die Here. Ja, dit het eintlik ’n probleem geword en deure oopgemaak vir die vyand om chaos en verwarring te saai.

Ek sien egter hulle hart, hoor ek die Here sê. Daarom gaan Ek hierdie kontinent wat in die oë van die wêreld “derde-wêrelds” is, en “so agter en arm is”, gebruik om juis hier geboorte te gee aan die nuwe dinge waarmee Ek besig is.

Die Jubilee-jaar en restourasie waarvan Ek reeds daar in Jesaja 61 geprofeteer het, gaan ook hier gebeur!

Daardie strome van oorvloed en salwing gaan hier begin vloei, vanuit hierdie “tribes” hier in Afrika. Volgens My wil, en in lyn met My hart en My geregtigheid.

Ek weet nie of jy weet nie, maar met die Joodse Nuwejaar, Rosh Hashanah op 3-4 Oktober 2024, het die jaar 5785 aangebreek.

Waarom dit belangrik en profeties insiggewend is, is dat daardie twee 5-we in die Joodse jaartal en die 5 in ons eie jaartal 2025, profeties net een woord uitskreeu: Genade!

Die getal 5785 sê as’t ware: Genade aan die begin, en genade aan die einde! Genade aan die voorkant, en genade aan die agterkant. Van die begin tot die einde is dit net God se genade aan alle kante!

God se genade is Jesus-genade, is Koninkryk-van-die-hemel-genade!

So omring die Here ons as Sy kinders met Sy genade midde ʼn stukkende wêreld vol stukkende mense en kan “Jubilee”, en God se genade-jaar hier gebeur!

Hoor die woord van die Here, kinders van die lewende Here en Koning!