Kom ons oordink verder die boodskap van die kruis (deel 3 van ons kort reeks oor die kruisgebeure)

 

Wil jy nie asseblief weer my artikel op die Net getiteld, gaan lees nie?
Hier is die skakel daarheen:

My artikel oor die kruisgebeure op die Net

Nou kan jy verder lees.

Daar aan die voet van die kruis moet ek hoor hoe God vir my sê:
“… nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Wat ek vandag wil hê jy moet hoor die Here sê vir jou deur Sy Woord, lê opgesluit in die frase “leef ek in geloof…”

Sien, dit gaan oor ʼn keuse wat ek in geloof, op grond van wat God vir my sê, maak.

Die Engels praat van “consider yourself…” of in ʼn ander vertaling, “reckon yourself…”

Jesus het self daar in Johannes 3 gesê dat dit wat in my lewe daardie dag gebeur het toe ek Hom in geloof aangeneem het as Verlosser en Here, in werklikheid ʼn nuwe, weer-geboorte, wedergeboorte, was!

Ja, sê Hy, ek is as’t ware deur die werking van Sy Heilige Gees, daardie dag nuut en oorgemaak, sodat ek hierdie nuwe, wedergebore mens kan wees! Ja, en toe het die Heilige Gees en Jesus self in my kom woon.

Voor dit was ek ’n sondaar, verslaaf aan sonde en onder die mag van die vyand. Na my wedergeboorte en bekering, is ek ’n nuwe mens en kind van God.

Meer as dit, die ou ek, wat net sy eie kop volg en wat sy eie voor- en afkeure het, is in God se oë, nou dood en begrawe. Nou leef die opgestane Jesus Christus, deur die Heilige Gees, self in my en wil Hy totaal in beheer van my lewe wees om my te gebruik soos wat Hy wil in Sy diens.

Dit is mos wat die Here self oor my sê daar in Gal. 2:19 en 20 terwyl ons aan die voet van die kruis staan? En nou is dit my keuse of ek in geloof wil aanvaar wat God self oor my sê en hoe Hy my sien. Kom ek herhaal dit net weer vir jou:

“… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Ek wil dit baie persoonlik maak.

Hoor wat sê die God wat nie kan lieg nie, oor Christo Nel hier: Hy sê dus vir my, Christo, (en nou kan jy jou eie naam hier invul) dat dit vir my en almal rondom my, terwille van ons almal se geluk en vrede en vir wat werklik vir ons almal goed is, beter is as die ou Christo (kom ons noem dit “die vleeslike Christo”), so gou moontlik sal aanvaar en begin glo wat God self oor hom sê.
In God se oë is die ou Christo, wat gewoonlik uit die vlees handel, dood!

Daarom moet Christo, terwille van wat vir hom en almal rondom hom goed is, homself in geloof as dood in Christus reken!

Ja, die ou Christo-in-die-vlees, omdat hy Jesus aanvaar het as Verlosser en Here, is daardie dag, 3 April 30 n.C., in God se oë, saam met Jesus Christus aan daardie kruis gekruisig en het daardie dag daar gesterf!

Vir dit wat God verder in en deur Christo wil doen, moet Christo nou, in geloof, op grond van God se Woord, homself as dood reken, self sterf en uit die pad uit kom!

Volgende keer gesels ons verder oor die implikasies hiervan vir my en jou lewe elke dag.